Die Sentrum vir Publieke Getuienis, MES en Stellenberg-gemeente het einde September gesamentlik ‘n kamp vir hawelose mense by die Apostelbattery-kampterrein in Llandudno aangebied. Die kamp het oor drie dae gestrek en MES, wat op grondvlak met hawelose mense werk, het leiers onder die haweloses geïdentifiseer en na die kamp genooi.
“MES werk reeds lank intensief met hawelose mense in Durbanville en Bellville,” sê ds. Why Duvenhage. “Tydens die kamp is daar juis gepoog om die mense wat te midde van hulle omstandighede potensiaal openbaar, te bemoedig en te versterk.”
Die JAM-span het dit aangebied en die drie-dag-program het gefokus op geestelike-, lewens- en leierskapsvaardighede.
“Dit was ‘n interessante ervaring en ek het besef daar is eintlik wonderlike mense onder die haweloses,” sê ds. Why Duvenhage. “Hulle was so dankbaar en het met oorgawe deelgeneem en saamgewerk”