Jou spiritualiteitstipe beïnvloed jou gebedslewe

Deur: Ds. René Potgieter

As daar een saak is waaroor mense maklik krities raak, is dit oor hoe mense bid. Mense bid verskillend, maar hoekom is dit so?  Hoekom dink gelowiges in dieselfde gemeente verskillend oor gebed en die inrigting van eredienste?  Daar is ’n verskeidenheid redes voor: Persoonlikhede en temperamente verskil, mense het verskillende talente en gawes en gelowiges het ook verskillende spiritualiteitstipes. Ons verskil van mekaar – daarom aandbid ons op verskillende maniere.

Eerstens moet ons ons afvra wat spiritualiteit is.  Dit is die mens se diepste dors of hunkering na God.  Spiritualiteit verwys na ons ervaring en omgaan met God.  Waar en hoe ons die teenwoordigheid van God beleef.

In Corinne Ware se boek Discover Your Spiritual Type: A Guide to Individual and Congregational Growth identifiseer sy vier verskillende spiritualiteitstipes . Sy onderskei tussen:

  • ’n Intellektuele/denkende tipe wat sy ook kortliks “head” noem
  • ’n Meer charismatiese of hartspiritualiteitsgroep
  • Die mistieke spiritualiteitsgroep
  • Die koninkryks- of visionêre spiritualiteitsgroep.

Spiritualiteitstipes, soos omskryf deur Corinne Ware, is die volgende:

Tipe 1: Kopspiritualiteit (teologies georiënteerde mens)

Die kopspiritualiteitsgroep is ’n denkende en intellektuele spiritualiteitstipe.  Die realiteit van geloofslewe is vir hulle belangrik.  Hulle druk hulle teologie in vaste konsepte uit, bv. God as Vader.  Die letterlik geskrewe Woord van God (Die Bybel) is vir hulle die essensie van hulle geloofslewe.  Hulle is gemaklik met ’n meer formele preekstyl en geniet studiegroepe en goeie teologies gebaseerde preke.  Hulle bydrae tot die gemeente is gewoonlik op die terrein van sistematiese teologiese nadenke oor leerstellige en etiese kwessies. Hulle sorg ook vir struktuur in gemeentes. Hulle verkies om slegs die Bybel as bron van hulle spiritualiteit te gebruik.  Ervarings is nie vir hulle prioriteit nie.

Gebedslewe

Hulle gebedslewe is vir hulle ’n uitdrukking van hulle eerbied aan God.  Hulle beleef God deur hulle verstand of kognitiewe denke.  Hul gebede is gewoonlik goed geformuleer en hulle verkies gebede wat uitgeskryf is en gelees kan word.  Hulle hou daarvan om met God te praat.  Hulle gebedstyl is gewoonlik gedissiplineerd, afgerond en met goeie teologiese inhoud.

Tipe 2: Hartspiritualiteit (charismatiese inslag)

Die hartspiritualiteitsgroep hou van warm uitdrukkings van geloof en interpersoonlike kontak binne die gemeente.  Hulle stel die Woord ook sentraal, maar vir hulle is die uiterlike uitdrukking van emosies ewe belangrik.  Gewoonlik sal mense met dié spiritualiteitstipe hulle godsdiensbelewenis meer gemaklik ten toon stel deur middel van gesigsuitdrukkings en/of handgebare.  Persoonlike getuienis, musiek en evangelisasie is vir hulle belangrik.  Hulle verkies ’n predikingstyl wat ook fokus op ander se getuienisse of ervarings.  Gewoonlik is hulle persoonlike warmte, entoesiasme en gemoedelikheid aansteeklik in ’n gemeente.  Hulle is dikwels ook voorstanders van ’n meer informele aanslag.

Gebedslewe

Hierdie tipe spiritualiteitmense voel tuis met baie emosie en gevoelvolle uitdrukkings in hulle gebedslewe, asook tydens eredienste.  Hulle hou daarvan om met God te praat, maar minder formeel as die eerste groep.  Hulle verkies vrye en spontane gebede.

Tipe 3:  Mistieke spiritualiteit

Die groep wat aangetrokke voel tot mistieke spiritualiteit,  wil aan God se voete sit en luister.  Die affektiewe, of emosionele komponent van godsdiens is vir hulle belangrik en daarom verkies hulle om na God te luister, eerder as om met Hom te praat.  Hulle soek na die teenwoordigheid van God.  Stiltes in eredienste is vir hulle belangrik en simbole speel ’n groot rol in hulle geloofsvorming.  Hulle vind aanklank by meditatiewe dissiplines en die lees van die Bybel help hulle om nader aan God te groei.  Stilgebed is vir hulle ’n voorkeur.  Hulle sal die gemeente aan die heiligheid van God te midde van die alledaagse herinner.

Gebedslewe

Hulle verkies om na God te luister in plaas daarvan om met Hom te praat.  Hulle hou nie van klaar uitgewerkte antwoorde nie en verkies dat God Homself aan hulle deur gebed moet openbaar.  Tydens gebed fokus hulle daarop om die teenwoordigheid van God te ervaar.  Dit is vir hulle soms genoeg om bloot in stilte aan God se voete te sit.

Tipe 4: Koninkrykspiritualiteit (baanbrekers)

Die beoefenaars van koninkrykspiritualiteit hou daarvan om aktief by sending, barmhartigheid, asook sosiale aksies, betrokke te wees.  Die groep beplan graag saam met medewerkers aan die aksies waarby hulle betrokke is en bid ook saam met ander daarvoor.  Hulle is dikwels die sosiale gewete van die kerk en sal die gemeente tot aksie mobiliseer.  Hulle sal selfopofferend wees in hulle navolging van die koninkryk se doelwitte.

Gebedslewe

Hulle bid as hulle besig is om iets vir die Here te doen, hetsy op die sendingveld of elders.  Hulle gebede is daarop gerig om die die koninkryk van God te laat groei.  Vir hulle word gebed en teologie die beste deur praktiese dade getoon.  Hulle doen graag voorbidding vir die gemeente se sending- en barmhartigheidsaksies.

Ten slotte

Elke spiritualiteitstipe lewer ’n onmisbare bydrae tot die gemeente.  Elkeen se unieke styl dra daartoe by dat ’n gebalanseerde spiritualiteitslewe in die gemeente heers.  Sodra slegs die een tipe oorbeklemtoon word, lei dit maklik tot eensydigheid, of die uitsluiting van ander se behoeftes.

Soms wonder mense waarom een prediker en se styl tot hulle spreek en ’n ander prediker s’n weer nie.  Die antwoord is eenvoudig dat gelowiges en ook predikante, verskillende spiritualiteitstyle het,  wat dan daartoe lei dat die twee by mekaar aanklank vind, al dan nie.  Maar die gemeenskaplike faktor hier is dat al vier die spiritualiteitstipes ernstig is oor gebed – hulle beoefen dit net anders.

Met erkenning aan Communitas