Die wêreld smag na ware leiers

Deur: Dr. Braam Hanekom

Die Amerikaanse presidentsverkiesing was besig om in ’n sirkus te ontaard toe die koronavirus vir ’n wyle die spektakel tot orde geroep het.  ’ֹn Mens wonder egter onwillekeurig waarheen Amerika en die wêreld op pad is.

Dit wil voorkom of ons ’n leierskapskrisis beleef. Feitlik oor die wêreld heen vind ons leierskap wat jou keel laat toetrek. Ek moet dit egter kwalifiseer:  Daardie besonderse vrou Angela Merkel bly vir my ’n uitsondering. Laat ek ook byvoeg: Daar is diegene wat konstant neerhalend oor ons eie president praat. Kyk egter ’n bietjie om jou rond. Dit is inderdaad ’n tyd om veel meer vir ons leiers te bid.

Hoe het ons hier beland het?

Die eenvoudigste antwoord is om te sê dat leiers nie sommer uit die lug val nie, maar meestal die produk van ’n samelewing is. Hoe is dit moontlik dat Amerika destyds, met slegs ’n paar miljoen inwoners, die Adamse, Lincolns en Jeffersons van die wêreld kon produseer en vandag, met meer as 300 miljoen inwoners, spartel om twee behoorlike presidentskandidate te kry?

Dalk moet ons erken dat mag, geld, selfbeheptheid en verwronge waardestelsels ’n groter houvas op ons almal gekry het as wat ons dalk dink. Ouwêreldse diensbaarheid, nederigheid en respek vir mekaar en teenstanders moes plek maak vir verbale aanvalle wat dikwels met leuens gepaardgaan.

Ons sien dit ook in ons eie land.

Terwyl leierskapskursusse ons kan help en vorm, word ware leierskap nie in dié kursusse gekweek nie. Ek steun die teorie dat ware leierskap in waardegedrewe samelewings gevorm word, om kombuis- en etenstafels, in ouerhuise.

Opvoeding is net so belangrik soos onderrig.

Leierskap is dikwels die resultaat van swaarkry en mense wat verstaan wat dit beteken om opofferings te maak.

Christus het op ’n keer baie spesifiek met sy dissipels oor leierskap gepraat. Hy het dit egter teenoor wêreldse leierskap geplaas en twee deugde uitgesonder: nederigheid en diensbaarheid (Luk. 22:26).

Dit beteken nie dat ons nie goed opgeleide, visioenêre, innoverende, dapper en gedissiplineerde leiers nodig het nie. Christus se boodskap was wel dat daar basiese begingsels is waarsonder al hierdie edele eienskappe ontspoor.

Ons lewe in ’n tyd van uiterse kompleksiteit waarin angstige, onseker mense ál meer soek na reg-of-weg-oplossings en -antwoorde. Die plofbare situasie wat om plaasmoorde ontwikkel het, bevestig dit. Groeiende rassespanning het nuwe uitdagings aan leierskap kom rig. Hoe word daar met wysheid nuwe sosiale kohesie en ’n nuwe sosiale kontrak geskep?  Ons het nou slim én wyse leiers bitter nodig wat dit kan doen.

Leiers wat voor God stil word, sal vind dat daar steeds baie stemme deur jou maal. God kan egter ’n wyse, onderskeidende harmonie in jou skep wat lig en koers in ’n donker tyd bring.

Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, Sinode Wes-Kaapland.