Gedagte vir die dag | Maandag 19 Oktober 2020

2 Korinthiërs 12:9.  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

In tye van swaarkry en beproewings vra ons dikwels: Waarom en hoekom? Ons verstaan nie altyd hoekom slegte dinge met ons gebeur nie, alhoewel ons terselftertyd glo dat God met alles ’n doel het.

Behalwe vir die doring in die vlees, wat ons nie presies weet wat dit was nie, vertel die boek Korinthiërs van die pyn wat Paulus beleef het, terwyl hy hierdie boek geskryf het. Hy het bedreig gevoel en is deur sy vyande aangeval. Sy integriteit is bevraagteken, sy eerlikheid is betwis, sy gesag is uitgedaag en sy prediking is verwerp – en dit alles deur vals leraars wat na die kerk in Korinte gekom het met een doelwit, naamlik om valshede te verkondig.

Behalwe hiervoor het Paulus in sy bediening ook nog baie ander ontberings deurgemaak. Ons lees daarvan in 2 Korinthiërs 11. Hy was verskeie kere in die tronk, hy is dikwels geslaan en in doodsgevaar.  By vyf geleenthede het hy die gebruiklike straf van nege en dertig houe ontvang, drie keer lyfstraf gekry en een keer selfs met klippe gegooi. Hy het boonop nog by drie geleenthede skipbreuk gely en op ’n stadium 24 uur (’n hele dag en nag) in die oop see deurgebring. Daar was vir hom dikwels nagte sonder slaap, honger, dors en ’n gebrek aan skuiling teen die koue. Saam met dit het hy ook nog daaglikse bekommernisse en  besorgdhede oor al die gemeentes gehad.

Die belangrike is egter dat Paulus altyd met al hierdie uitdagings na God toe gegaan het. Die antwoord wat Paulus in 2 Korinthiërs 12:9 van God ontvang is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” God het geantwoord, maar God se antwoord was nie om die pyn en die swaarkry weg te neem nie, maar om die genade groter te maak.

GEBED

Here, help my asseblief om my las te dra. AMEN