Romeine 1:17. “ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”
Martin Luther wou as jong student sekerheid en waarborge oor die lewe hê. Hoewel sy pa daarop aangedring het dat hy ’n regsgeleerde word, was Luther in sy soeke na sekerheid aangetrokke tot die teologie. Hy was oortuig daarvan dat ’n mens net van God kan leer deur God se openbaring en daarom het hy die Bybel intensief begin bestudeer.
Op 2 Julie 1505 na ’n besoek aan sy ouerhuis, keer hy terug universiteit toe en tydens sy reis steek ’n donderstorm op en ’n weerligstraal tref die grond naby hom. Bleek geskrik, maak hy toe ’n belofte aan God om ’n monnik te word. In die klooster het hy homself aan vas, gebed, en gereelde sondebelydenis toegewy en ten spyte van al sy pogings wou sy gevoel van geestelike verlorenheid net nie wyk nie. Hy kon nie glo dat al die goeie dinge wat hy doen God se oordeel oor sy lewe sou wegneem nie. Daar was geen sekerheid nie. Luther het gevoel hy is vasgevang in sy sonde en het ’n gevoel van verlorenheid beleef.
Sy deurbraak het uit die Bybel gekom. Hy het Romeine 1:17 raak gelees. Die teks praat van God se geregtigheid. Vir Luther het dit altyd beteken dat God daarop geregtig is om sondaars te veroordeel. Skielik het hy begin verstaan God se geregtigheid is die vrye geskenk wat God aan sondaars toereken. Dit is ‘n geskenk wat deur die leë hande van geloof ontvang word en sondaars regverdig voor God verklaar.
Dit het sy lewe verander. Skielik het hy in God se genade ’n vaste anker ontdek en verstaan dat sy goeie dade hom nie gaan red nie, maar dat God se genadegeskenk wel sondaars red. Luther se protes en klem op God se genade het tot die grondige reformasie en die opkoms van die Protestantisme gelei. God red sondaars uit genade, God verklaar sondaars regverdig. God bewerk die verlossing in verlore mense se lewens.
GEBED
Wees my genadig, o God, in u troue liefde,
wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!
Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.
Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
Maar daarom kom vra ek om vergifnis. Amen