2 Korintiërs 8:13-14. Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly nie, maat sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou ’n oorvloed het, die help wat gebrek lei.
Ons word daaglik met die nood van mense om ons gekonfronteer. Dit raak soms so oorweldigend dat ’n mens begin moed verloor om op enige manier iets daaraan te doen. Watter verskil maak my klein bydra? Of moes ek dalk meer gegee het, is vrae wat by ons opkom. Paulus herinner ons in die teksgedeelte aan ’n belangrike beginsel. Die Here vra nie vandag iets van ons wat ons nie reeds het om te gee nie. Inteendeel ons het oorgenoeg om aan ander uit te deel. Dink vandag anders aan die middele tot jou beskikking en hoe ander mense ook na jou uitreik. Nie net met geld nie, maar ook met tyd, vaardigheid en geestelike gawes.
Gebed
Here, dit is doodstil rondom my. Ek kan nie die wêreld om my voel asemhaal nie. Ek hoor niemand praat nie. Ek sien niemand beweeg, of lag, of huil nie. Here, kan dit wees dat ek so geïsoleer voel omdat ek vir niemand meer omgee nie? Omdat ek na niemand meer luister nie? Omdat ek net aan myself aandag gee? Omdat ek net “myself wil wees”? Aandring op my “individualisme”? Here, verander my onverskilligheid en my onsensitiwiteit in empatie; my dadeloosheid in entoesiasme. Here, maak oop my oë en my ore en leer my omgee vir ander.