Psalm 91:4 – 6. “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.”
Bekommernisse is vir ons ’n daaglikse realiteit. Net soos wat jy van een bekommernis ontslae raak duik daar weer ’n ander een op en dit is asof die impak daarvan met ouderdom erger raak en dit laat ons dikwels weerloos. Wat is die kommer wat jy vandag in jou hart dra. Laat die woorde van hierdie Psalm vandag in jou weerklank. Mag dit jou vandag help om te fokus op dit wat belangrik is en al jou vrese oor wat moontlik kan gebeur, soos mis voor die son laat verdwyn.
Gebed
Here, ek kom gee die bekommernisse wat nou in my gedagtes maal en in my gemoed verwoesting saai aan U oor. Help my om deur die vrees en onsekerheid wat dit in my bring te kyk. Skep deur U Gees in my gemoed die rus om met hoop hierdie dag wat voor my lê in te gaan.