Johannes 17:1-3. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.
In ons teksgedeelte is Jesus besig om net voor die traumatiese gebeure van sy lyding en sterwe, vir sy dissipels te bid. Hy besef dat dit vir hulle baie moeilik gaan wees om sin van die komende gebeure te maak en dat dit hulle met baie onbeantwoorde vrae gaan agterlaat. Die Here het begrip dat hedendaagse gebeure ons dikwels ontnugter en verward kan laat. Daarom is hierdie gebed van die Here ook vandag vir ons so kragtig. Dit laat ons verstaan dat ons kennis van God se aard en karakter ons nou reeds ’n uitsig op die ewige lewe bied. Dit gee perspektief aan alles in die tydelike lewe en help ons om daagliks God se ewige genade en sorg te beleef.
Gebed
Here ons God, wees Uself nou hier by my, sodat hierdie gebed vandag ’n tyd van lig sal word. Laat my in u teenwoordigheid die hemel sien oopgaan, sodat ’n stukkie van U lig in my donker situasie skyn. Ek vra dit in die naam van u Seun, Jesus Christus.