Gedagte vir die dag | Saterdag 3 Oktober 2020

Eksodus 33:17-18.  “Die Here het vir Moses geantwoord: Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Toe sê Moses: “Laat ek tog net U magtige verskyning sien!”

Het jy al ooit daaroor nagedink . . . wat is meer eie aan jouself as jou naam? In ’n sin bring jou naam ’n prentjie na vore oor wie jy is en is dit  baie nou verwant aan jou identiteit.

Dit is lekker as ek kan sê, ek ken daardie persoon want ek ken sy/haar naam. ’n Naam ontsluit ’n persoon en mense word aan hul name geken. Jy wil ook nie graag ’n sogenaamde slegte naam hê nie, want as jy ’n slegte naam het, verwys dit na iets sleg in jou persoonlikheid. ’n Goeie naam moet nagestreef word. Spreuke 7:1 sê ook: “‘n Goeie naam is beter as reukolie.” Hoe wonderlik is dit as God sê: “Ek ken jou naam.” Soos vir Moses in ons teksgedeelte: “Ek is jou goedgesind, en ek ken jou op jou naam”.

Of as Hy sê: “Ek het jou by die naam geroep . . . Ek ken jou persoonlik en intiem en jou naam verbind jou aan My.

My beste vriend is verlede maand skielik aan ’n hartaanval oorlede. Hy het die laaste aantal jare van sy lewe, pragtige jagmesse gemaak. So ’n paar jaar gelede het hy vir my ook een gemaak en as ’n simbool van ons vriendskap vir my gegee. Aan die een kant van die lem het hy my naam gegraveer, en aan die ander kant sy naam. Die mes het waarskynlik een van my kosbaarste besittings geword, veral as gevolg van die twee gegraveerde name. Dit dui op ons liefde en vriendskap vir mekaar.

Daar is kwalik ’n beter vers wat daarby kan aanpas as Jesaja 49:16: “Ek sal jou nie vergeet nie, Ek het jou naam in my handpalms gegraveer”.

Vriend en vriendin – God ken jou op jou naam. Jou naam, wat jouself verteenwoordig, is uiters belangrik vir Hom. Dit is op sy handpalms gegraveer en bevestig sy liefde en omgee vir jou. Spreek jou eie naam hardop uit en weet dat God regop sit, wanneer jy dit doen! Hy hoor en ken jou op jou naam.

Gebed

Here, dankie dat my naam ingegraveer is op u handpalms, en dat U, U naam agter my naam skryf. Amen.