Psalm 88: 2-3. “Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep”.
Wanneer ons mekaar groet, word dikwels gesê: “Totsiens, en roep maar gerus as ek kan help met iets.” Die woorde is nogal nou verwant aan mekaar. Ek kan van baie kere onthou wat ek in benoudheid om hulp geroep het. Toe ek as klein seuntjie bang was vir denkbeeldige drogbeelde wat ek in die donker in my kamer gesien het, het ek na pappa geroep vir hulp en vertroosting. Of toe ek die slag in die moeilikheid in die see beland het, en ek so hard moontlik moes “roep” dat iemand my moet kom help. “In nood”, dui op absolute vreesbevange, desperaatheid. Daardie punt waar jy jouself nie meer kan help nie. Waar jy in vertroue roep om hulp!
Klink dit nie baie bekend nie, en sien ons dit nie baie in die Bybel gebeur nie? In Psalm 88, word een van hierdie benoude, desperate roepe gehoor. Dit is ’n opregte roepe na God. ’n Gebedsroep vanuit die diepste nood en benoudheid.
Die digter omskryf sy haaglike omstandighede, wat aanleiding gee tot sy angs en benoudheid, in vers 4-7. Gaan lees gerus die gedeelte: “Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie. Vers 7: “U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.”
Daarom die angsroep in vers 2 “Ek roep elke dag om hulp!” Na wie? Na God! Maar dis nie ’n hulpelose, leë roep nie. Die roep weerspieël vertroue in die een na wie geroep word! Die roeper weet hier, dat die enigste uitkoms uit sy haaglike omstandighede, God is. Die God, wat volgens vers 2, “my altyd help”.
Wanneer laas moes jy roep om hulp? Miskien oor ’n persoonlike krisis? Of oor ’n noodsituasie? Miskien oor gesondheid, of finansies, familiekrisisse . . .
Roep is natuurlik. Almal roep op ’n stadium om hulp. Ons roepe na God, moet roepe met vertroue wees! Roep, met die sekerheid dat God my roep wil hoor, en my wil help! Soms is dit nodig om ons eie trots te sluk en maar net in afhanklikheid en desperaatheid te roep.
God hoor dit en op maniere wat ons somtyds nie eers verstaan nie, reageer Hy in liefde en met krag daarop om uitkoms te bring.
Gebed
Here my God, wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. Amen