Jesaja 44:33. “Ek sal water gee aan die dorstige land, sodat die strome loop oor droë grond. Ek sal My gees oor jou nageslag gee en hulle voorspoedig maak.”
Dis nogals intressant en insiggewend, oor hoe lidmate en mense reageer oor die feit dat ons nie in die kerk bymekaar kan kom nie. Ons as kollegas dink baie na oor die rol van die kerkmense se terugkeer na die eredienste en mense se huidige gemaklikheid om in hul huise na ’n preek te kan luister en dan te voel alles is reg.
Die Franse geleerde Jacques Ellul, van Bordeaux, bak nie mooi broodjies wanneer hy as Christen oor die Christendom en die kerk van ons tyd skrywe nie. In sy boek, “Die ondermeining van die Christendom” val hy weg met die volgende woorde: In Afrikaans vertaal, “Die vraag waarmee ek myself al lankal mee besig hou in die boek, is een wat my diep bekommerd maak. Hoe het dit gebeur dat die ontwikkeling en die begin van die kerk en die Christendom gelei het tot die onstaan van ’n gemeenskap en beskawing, wat heeltemal die teenoorgestelde is van dit waaroor ons in die Bybel lees”. En dan wys hy op die groot verskille tussen die Bybelse en kerklike voorskrifte en praktyke asook hoe Christene dan oor die eeue die Bybel aangepas het om by hul gewoontes en lewenswyse aan te pas, met rampspoedige gevolge. Dit is voor die hand liggend dat ons nie presies volgens die Bybelse voorskrifte kan optree nie, want hulle het in ‘n totale ander kulturele, sosiale, en ekonomiese konteks geleef, baie ook pre-modern.
Meer as ’n eeu gelede het die Deense Teoloog, Kierkegaard, byvoorbeeld al verwys na die vreemde praktyk, wat reeds vir 15 eeue in sogenaamde Christelike lande gegeld het, naamlik om die eed met die hand op die Bybel af te lê, terwyl die aflegging van die eed uitdruklik in die Bybel in Matteus 5:34, verbied word.
Die een na die ander ondermeindende praktyk van die Christelike kerk oor oor die eeue heen ontmasker. So het ons Christene mettertyd begin vergeet dat die Christelike boodskap eintlik ’n aanstoot en struikelblok vir mense is en het die kerk totaal anders begin lyk as wat dit in die vroeër kerkjare, soos ons in Handelinge 2 lees, gelyk het. Gelukkig is Christus nog daar, en die kruis wat in die hart van die wêreldgeskiedenis geplant is, kan nie ontwortel word nie. Boonop werk die Heilige Gees nog onverpoos voort in die harte van mense.
Maar dan moet ons wakker word. Die misdryf van die kerk is nie moord, diefstal, en al daardie afskuwelike dinge nie. Die grootste misdryf van die kerk, is sekerlik die sonde van slaap. Soos digter van Spreuke 10:5 dit byna kras stel: “’n mens wat die oestyd deurslaap, verdien veragting”. Daarom moet ons as geloofgemeenskap, as NG kerk en as Christelike kerk wakker wees. Veral in hierdie land, want ‘n lewende kerk kan gesien en gehoor word.
Gebed: Here maak ons waaksaam, maak ons sensitief dat ons die gestalte van Jesus in hierdie wêreld kan wees. Amen.