Matteus 6:14. As julle ander mense vergewe waar hulle verkeerd gedoen het, sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe waar julle verkeerd doen.
In ’n poging om haar behoeftige ouers te onderhou, het ’n Duitse meisie op haar tuisdorp klavierlesse vir kinders begin gee. Sy het haar klavierlesse bemark deur te sê sy is ’n leerling van Franz Liszt, ’n bekende komponis, en dit dan ook in die dorp verkondig, met die hoop dat dit haar beter sal laat lyk. Maar toe bring die bekende groot komponis besoek aan die dorpie en sy besef dat sy nou in die moelikheid is en dat haar leuen by Franz Liszt sal uitkom. Sy het toe sommer die bul by die horings gepak en teenoor hom gaan bieg, voordat haar valse beweringe by hom kon uitkom. Sy het haar gedrag teenoor Franz Liszt bely en om vergifnis gevra. Nadat Liszt haar ernstig berispe het, het hy haar versoek om ’n stuk op die klavier vir hom te speel. Hy het haar op enkele foute in haar spel gewys en toe vir haar gesê: “Nou ja, nou is jy een van my leerlinge. Gee nou self ’n uitvoering, en kondig teen die einde van die uitvoering aan dat jou uitvoering met ’n musiekstuk, gekomponeer deur Franz Liszt, afgesluit word. Dit is mos wat Jesus aan die kruis ook gedoen het toe hy gebid het: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Dit breek ’n mens se hart wanneer jy die vooroordeel en die onvergewingsgesindheid wat daar tussen verskillende rassegroepe in Suid-Afrika bestaan, sien. Ons hoor beskuldigings word heen en weer vanuit jou eie rasgroep, of politieke groepering teenoor ander gemaak. Ons lees ook van mense wat sê, dat dit wat hulle in die apartheidsregering beleef het en dat hulle die wandade wat teenoor hulle gepleeg is, nooit sal vergewe en vergeet nie. As dié mense maar net Benjamin Franklin se woorde wil onthou: “Om iemand te verontreg, plaas jou onder jou vyand.” Om jou te wreek, plaas jou op dieselfde vlak as hy, en om die ander een te vergewe, plaas jou bo hom.”
Dit was ook die gesindheid van die vrou van Chiang Kai-shek in die laaste wêreldoorlog: “Daar mag geen bitterheid onder ons wees nie, ondanks die lyding wat ons verduur het, moet ons probeer om almal te vergewe, almal wat ons kwaad aangedoen het. En net die lesse onthou wat ons daaruit geleer het,” het sy gesê.
Sou ons ooit kan vergeet van Maria en die baie duur nardusolie wat sy op Jesus se voete uitgegiet het, en daarna met haar hare afgedroog het. Johannes 12:3: “God is nie onregverdig nie.” Hebreërs 6:10: “Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het nie.” Kom ons sê dankie vir die Here vir sy liefde en sorg, maar ook vir elkeen teenoor wie ons in die verlede leed aangedoen het.
Gebed
Here dankie vir U groot vergewinsgesindheid en die uitbeelding daarvan in Jesus Christus. Gee dat ons dit ook teen ander sal uitleef.