Psalm 150:6. Laat alles wat die Here leef, die Here prys. Prys die Here!
Ek hoor by ’n vriend, wat aan die see se kant van die Langeberge boer, van ’n oom, wat omtrent my ouers se ouderdom was, en wat bekend was vir sy spaarsamigheid. Hy het blykbaar saans met huisgodsdiens by kerslig ’n stukkie uit die Bybel gelees en daarna die kers doodgeblaas terwyl hy gebid het. Na die gebed het hy weer die kers aangesteek voor hulle die huisgodsdiens afgesluit het deur ’n Psalm of Gesang saam te sing. Hy het gesê die kerse hoef mos nie onnodig te brand wanneer almal se oë toe is onder gebed nie. Gelukkig het die kerse darem gebrand terwyl hulle gesing het.
Met ons beoogde bymekaarkom in die kerk vanaf die 4de Oktober, is dit effens onduidelik of ons in die kerk mag sing, of nie. Maar dit voel eintlik onnatuurlik om in die kerk bymekaar te kom en nie saam te sing nie. As ons Christene maar net meer wou sing, sou ons die skeptiese deel van die mensdom makliker na ons toe aangetrek het. As ’n bonus sou Christene van verskillende kerke ook makliker bymekaar uitgekom het om as’t ware reeds hier op aarde saam te oefen om voor die groot troon en die Lam, die lof van God te besing, soos Openbaring 7:9 sê: “Elke stam, volk en taal”.
Ek dink nou terug aan so 15 jaar gelede toe ek en Braam Hanekom, en ‘n paar ander lidmate by die Willow Creek Kerk in Amerika besoek afgelê het. Dit was ’n ongelooflike ervaring. Daar was ‘n klomp gelowiges saam – ons was seker omtrent tussen 1 500 tot 2 000 Christene van oor die wêreld heen bymekaar. Na die opening van die konferensie is ’n bekende lied verkies, wat deur elke persoon teenwoordig in sy/haar eie taal gesing kon word. Skielik was dit soos ’n hemelse koor van mense wat in verskillende tale die lof van God besing het. Ons bekende lied, Grote God, aan U die eer, Heerlik is waar U regeer. Hemels is U majesteit, Heilig U geregtigheid, kon ons in ’n paar tale herken. Die Suid Afrikaners wat hier rondom ons gesit het, die Engelse, die Franse, die Duitsers, die Hollanders, dit was asof jy en die duisende mense om jou, omring was met ‘n Goddelike lig. Ons was mense met verskille, maar ook gemeensaamheid omdat dit oor die eer van die Here gegaan het.
Ons vertrou ons gaan weer die geleentheid kry om saam te sing, sodat ander mense ons kan hoor! So sal ons bevry word van ons vrees. Ja, ons sal die kerse laat brand!