Matteus 20:26: Maar by julle mag dit nie gebeur nie, as een van julle ‘n leier wil wees moet hy gewillig wees om almal te dien.
Die groot Franse strateeg, staatsman en patriarg, generaal Charles de Gaulle het op ’n dag, toe hy nog ’n onbekende jong offisier was, blykbaar aan ’n vriend gesê: ” Leiers sal oor ’n paar jaar my hulp vra om ons land te red”.
Ek het baie oor hierdie woorde nagedink, spesifiek rakende Erfenisdag, en hoe ons aan ons erfenis dink en dit wat kosbaar is in hierdie land wil probeer red. Jare later is de Gaulle se woorde toe bewaarheid en hy het vir baie jare die militêre en politieke toneel in sy land oorheers. Hy het die inspirerende leier geword wat tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe Frankryk op sy knieë was, wat in ’n bekende radio onderhoud sy volk, daaraan herinner het dat Frankryk wel ’n veldslag verloor het, maar nie ’n oorlog nie.
Durf en waagmoed is kenmerkend van ware leiers. Gewone mense is ook leiers en de Gaulle het self verklaar dat leiers op verskillende terreine nooit sukses sou bereik het as hulle na die raad van korsigtiges, versigtiges en beskeie wankelmoediges sou luister nie. Die wêreldgeskiedenis en ook ons eie Bybelse geskiedenis bevestig de Gaulle se woorde, dink maar aan mense soos Noag, Joshua, Dawid, Ester, Daniel, Paulus en dan veral ook aan Jesus. Die ideale ware leiers sal egter altyd die beginsels van Christus, die groot leidsman in gedagte hou. So ’n leier sal geloofswaardigheid by sy volgelinge afdwing en dit is belangriker as al die kundigheid en vernuf waaroor hy/sy beskik.
Hierdie leierskap word nie net in politieke kringe, of die voorste gestoeltes in raadskamers, of soos in ons geval in sinodale- of kerkraadsvergaderinge vertoon nie, maar juis in die klein kring van die huisgesin in die familiekring. Dit vra egter van ons almal om leiers te wees, elkeen in sy eie reg. Dit vra moed, maar ook nederigheid, soos Jesus aan sy dissipels gesê het wat onder mekaar gestry het oor ’n ere posisie. In Matteus 20:26 &28 het Hy toe vir hulle gesê: ” Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;” en toe weer “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien . . .”
Op Erfenisdag dink ek dis belangrik, as ons mekaar vra, hoe gaan ons, ons land red? Dit gaan hier oor diensbaarheid. In ’n meningsopname is bevind dat heelwat mense daarin slaag om die sogenoemde stress van ons tyd te verwerk omdat hulle gelowiges is. Is jy een van hulle? Indien wel, kan jy gerus maar die stemme van kortsigtiges en wankelmoediges en doemprofete ignoreer. Want ons het ’n plek in hierdie land, elkeen van ons het ’n rol om te speel. Elkeen in die klein kring waar die Here jou geplaas het.
Gebed: Dankie dat U vir elkeen van ons wil gebruik, om ’n betekenis aan erfenis te gee. Om in die kring waarin U ons geplaas het, daardie area van ons land te red. Amen.