’n Nuwe manier van doen

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Ons het soos die inperkingstyd verleng is, toenemend meer navrae aangaande die doop van babas ontvang.  Om ouerpare te akkommodeer het ons binne die COVID-19-maatreëls spesiale doopdienste in die kerk begin hou.  Die bywoning van die dienste is was eers tot 50 persone beperk, maar toe was dit minstens vir dooppare moontlik om hulle nabye familie na die plegtigheid te nooi.

Ons het sedert die begin van September reeds ag babas gedoop en ons beoog om nog sewe babas in Oktober te doop.  Dit bly vir ons as leraars ’n wonderlike voorreg om by die doop van lidmate se babas betrokke te wees en die sakrament selfs ten tye van hierdie noodtoestand te eer.

Tieners in graad 12 het ook aangedui dat hulle graag belydenis van geloof wil aflê.  Hulle het reeds verlede jaar hulle kategese en voorbereiding vir   belydenisaflegging voltooi.  In Septembermaand het ons besluit om ook dié groep tegemoet te kom en hulle geleentheid gegee om tydens twee van ons Relevant-dienste (jeugdienste) hulle geloof voor hulle ouers en familie te bely.

Ons is dankbaar dat ons planne kon maak en ons bedieningstyl kon aanpas om voort te gaan met dié gebruike wat die ruggraat van ons godsdiensbeoefening vorm.