Deur: Dr. Braam Hanekom
Die COVID-19-pandemie het baie uitdagings aan ons almal kom stel. Ook het dit nie die kerk vrygespring nie. Laat ek egter eers dit sê, gelukkig hou Christus self sy kerk in stand, oor alle eeue heen. Ons hoef dus nie paniekerig te raak nie, maar dit beteken nie dat ons moet ophou dink nie.
Laat ek nou my probleem verduidelik. Na die grendeltyd begin het, het gemeentes verwoed begin om aanlyn kerk te hou. Dit het onder omstandighede goed gewerk en verrassende nuwe moontlikhede vir die kerk gebied. Tog is daar beslis wesenlike dele van kerkwees wat nie betrek kon word nie.
My begrip van kerkwees, wat terloops sedert my kweekskooldae by my ingedril is, is dat daar ten minste vier basiese komponente van kerkwees is, naamlik ’n plek waar:
- Die evangelie verkondig word (kerugma)
- Diens gelewer word (diakonia)
- Mense in gemeenskap saamkom (koinonia)
- Aanbidding plaasvind, ook in lofsang (leitourgia)
Die probleem is dat ons tans ’n bietjie soos ’n viersilinder-motor is wat op slegs twee silinders loop. Ons vaar goed met YouTube-preke (kerugma) en lewer baie mooi diens (diakonia). Die vraag is egter wat gebeur met ons saamwees en samesyn (koinonia) en veral ons aanbidding en lofsang (leitourgia)?
Dit is veral oor laasgenoemde dat ek begin nadink het. Dit bly ’n moeilike saak. Selfs in ons maksimum-50-eredienste mag ons nie sing nie. Die vraag is dus of daar nie nuwe moontlikhede ontwikkel moet word waar die mense tuis in ’n vorm van lofprysing kan deel nie. Die minimum sou wees om toegang tot die materiaal van lofprysingsgroepe en kore te verkry om ons YouTube-aanbiedings te verryk.
Dit is baie belangrik dat ons sal poog om nie net ons liggame gesond te hou nie, maar ook ons koppe. Musiek en aanbidding kan ongelooflik baie hiermee help.
Dus, al kan ons nie nou saamsing in die kerk nie, laat ons die middele tot ons beskikking gebruik om na goeie musiek en ook selfs aanbiddingsmusiek, te luister. Ek smag na die dag wanneer ons waarlik weer saam sal kan sing.