Opskiet-, of verskyn-en-verdwyn-winkels, of soos dit in Engels bekend staan pop up shops, is ’n nuwe gier wat die sakesektor oor die wêreld heen beetgepak het. In die lig van die feit dat die gemeente se jaarlikse feesmark gekanselleer moes word omdat dit nie volgens Covid-19-regulasies aangebied mag word nie, het Marilize Verreynne en Adri du Randt, feesmarkorganiseerders, nuwe planne probeer maak en ’n opskietwinkel lyk vir hulle twee soos ’n wenresep.
“’n Opskietwinkel wat in die saalkompleks aangebied word, kan aan al die Covid-19-veiligheidsmaatreëls voldoen en ook terselfdertyd aan handwerkers en entrepreurs wat swaar deur die inperking getref is, ’n geleentheid bied om ’n inkomste te verdien en gemeenteprojekte sal ook by die bykomende inkomste baatvind,” sê Marilize.
Indien hulle net van die sale gebruik maak en geen tente byvoeg nie, kan daar, volgens Adri du Randt, verantwoordelik vir die terreinplan, 130 uitstallers binne die saalkompleks geakkommodeer word. ’n Wegneemeterestaurant wat deur Malita Joubert bedryf sal word, kan in die markplein ingerig word en sal wegneemetes en drinkgoed verkoop. Die voorportaal van die kerk sal ook ’n koffiewinkel huisves en die saalgedeelte van die kerk sal in ’n gesellige en veilige wagarea vir klante wat wag om by die winkel in te gaan, omskep word.
“Die feit dat ons net aan ongeveer 130 uitstallers uitstalruimte kan bied, is vir ons ’n groot jammerte,” sê Marilize. “Ons is al soveel jare persoonlik by ons uitstallers betrokke en ons weet dat almal swaar deur die inperking getref is, maar ons het onder die huidige omstandighede geen ander keuse nie. Ons gaan uitstallers wat reeds vroeër in die jaar met die oog op die feesmark gekeur is, nader, om hulle ware by die winkel uit te stal en ons sal fokus op die selektering van bekostigbare, handgemaakte produkte vanuit ons omliggende omgewing.”
Die opskietwinkel se naam is Kervreugde/Xmas joy en gaan aan klante die ideale geleentheid bied om beskostigbare items vir die hele familie se kerskouse te koop. Die winkel en restaurant se deure open op Woensdag 28 Oktober en word vir 11 dae tot Saterdag 7 November bedryf. Inkopie-ure sal weeksdae vanaf 09:00 tot 18:00 en Saterdae vanaf 09:00 tot 16:00 wees. Klante word aangemoedig om aankope met krediet- en debietkaarte te doen, aangesien die hantering van kontant met die oog op veiligheidsregulasies, tot die minimum beperk wil word.
Produkte sal in die twee sale, asook in die ou kafeteriaruimte en bovertrek uitgestal word en daar sal in elke saal betaalpunte wees sodat lang rye by betaalpunte vermy word. Klante kan dus hulle aankope binne elke saal afhandel, voordat hulle na ’n volgende saal beweeg, of die terrein verlaat.
Gebak, deliprodukte, mansgeskenke en lekkernye sal in die grootsaal beskikbaar wees. In die kleinsaal sal ’n mens dekoritems, allerlei geskenke en bederfies vir die jongspan vind. Juwele sal in die bovertrek uitgestal word. In die voorportaal van die sale sal Kersversierings en kaartjies uitgestal word.
“Ons pak die onderneming werklik in geloof aan en glo dit kan wel ’n verskil in mense se lewens maak. Na ’n moeilike jaar wat baie uitdagings aan die meeste van ons gestel het, glo ons ook dat ’n verrassing in ’n Kerskous baie waardeer sal word,” aldus Marilize Verreynne.