My storie van hoop . . .

Deur:  Stephanie Bothma

Waar begin ’n mens om weer die gebeure van ’n paar jaar gelede neer te skryf?   Eers het ek gemaak of ek nie die klein kuiltjie raaksien nie, maar toe wou dit nie, soos ek gehoop het, vanself verdwyn nie! Toe volg ’n sonar wat ’n kwansuis onskadelike gewas op die skerm aanwys, maar ’n biopsie word tog aanbeveel.

Nog steeds was ek nie bekommerd nie.  Ek is gesond en as dit ’n kwaadaardige gewas was, moet ek mos sleg voel, of hoe?  So het ek in my naïwiteit gedink.  En dan ontvang ek die oproep van die dokter met die uitslag  – stadium 2-borskanker.  Dis gelukkig nie aggressief nie, maar ek is skielik siek van skok.

Wat maak ek nou met die nuus?  Eers vir Low gebel en die aand vir ons kinders vertel.  Laurè het die aand oorgekom en ons het met Willem (wat in die VSA woon) die nuus via Skype gedeel. Ek onthou nog die skrik op sy gesig en die vraag:  “Ma, moet ek terugkom?”

En so begin die eerste dag van die res van my lewe toe.  Al waarvan ek seker was, is dat God se liefde vir my onveranderd bly.  Dis onvoorwaardelik.  En dis genoeg.  Ek kan daaraan vashou.  Ek en Low gesels met die chirurg en plastiese chirurg wat die operasies gaan uitvoer en ek skep weer moed!  Toe is dit nog toetse, onder andere ’n MR-beeld, ’n nuutjie wat ek nog nooit beleef het nie.  Toe die personeel by die mediese praktyk my vra of ek al by die mediese fonds as onkologie-pasiënt gereigistreer is, wou ek sê :  Wat, wie, ek?

Ek het vir ’n paar maande medikasie geneem sodat die gewas kon krimp – dit sou die impak van die  operasie minder maak.  Die kanker is estrogeen-gedrewe en medikasie sou die estrogeen in my liggaam vernietig, asook die vorming daarvan voorkom en dit nogal nadat ek onder die indruk was ek is al liggies deur my menopause – net nog ’n verrassing, nog iets wat my voete onder my uitgeslaan het!  Min wetende dat ek die medikasie nog vir die volgende vyf jaar sou moes drink.

Gelukkig het die gewas na wense gekrimp en is ek op 28 Augustus 2012 met groot sukses geopereer.  En dis al datum wat ek onthou!  Die daaropvolgende bestralings elke dag van die week vir ’n paar weke, was uitputtend. Na drie weke van dié roetine het die moegheid my oorval – dit was werklik asof my energie in die niet verdwyn, of van my gestroop is.

Op die nuwe vreemde pad wat ek moes loop, was my kontak met die mediese personeel die mees verrassende en ongelooflike ervaring.  Die chrirurg was besonder ondersteunend en het vir my in die hospitaal gebid toe die berugte derde dag my tref!  Van die deurwag tot die mediese personeel en onkoloë in die onkologie eenheid, is almal wat my betref, engele.  Elke dag vriendelik en behulpsaam asof ek die enigste pasiënt is wat hulle ondersteun en asof hulle nie ook dalk self persoonlike swaarkry beleef nie!

Om weer ’n mens se energie te herwin, is ’n baie tydsame proses. Die bestraling het my vel verniel en dit was vir maande nog seer.

En sommer voor ek my oë kon uitvee was dit alweer tyd vir die driemaandelikse ondersoek.   Vooraf bloedtoetse en dan volg ’n lang dag met ’n verskeidenheid toetse.  Ek het soos ’n masjien deur die proses gegaan.  Toe ek op ’n dag in my motor sit en wag vir ’n volgende afspraak by Panorama Mediclinic, het ek skielik besef hoe ongelooflik bevoorreg ek is.  Ek het toegang tot eerstewêreldse tegnologie, navorsing, mediese kennis en toegewyde personeel.  Dit was toe dat ek besef het – dis wat genade is.

Elke keer wanneer ek die uitslae ontvang, weet ek wat die meeste ander sogenaamde gesonde mense nie weet nie en dit is dat  daar nie op daardie stadium kanker in my liggaam te bespeur is nie!  Dis nou ’n paar jaar later en ek gaan steeds jaarliks vir die opvolgondersoeke om seker te maak alles is nog wel.  En nog steeds ervaar ek groot dankbaarheid wanneer ek jaarliks daardie groenlig ontvang.

Ek dink daar is nogal ooreenkomste tussen kanker en Covid-19 . . .

  • Daar lê ’n toekoms voor wat ons nie kan voorsien of voor beplan nie.
  • Die onsekerheid, spanning en angstigheid wat met ’n ernstige siekte gepaardgaan. In sulke tye het almal behoefte aan deursigtigheid en leiding om sin te maak van die skielike nuwe omstandighede.
  • Niemand het ’n idee wat die omvang daarvan gaan of kan wees nie.
  • Alles verander. Ou gebruike raak irrelevant en nuwes word geskep.  Dit is ons reaksie op die gebeure wat ’n verskil maak – nie die gebeure op sigself nie.
  • Moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Daar rus groot verantwoordelikheid op elkeen om sy of haar deel te doen.

My drome vir die toekoms – daar is ’n hele lys.  Party goed verander, maar een ding staan in die laaste tyd bo-aan my lysie – ek wil weer klavierlesse neem.  Dit maak nie saak hoe dit met my gaan nie – daar is altyd musiek wat gepas is.  Dalk loop ek nog iewers ’n klavier raak.

Noudat ek meestal van huis af werk (weens my hoë ouderdom en die risiko wat dit vir Covid-19-infeksie inhou) sal ek bedags tyd maak om myself te vermaak en musiek te geniet!

Ek sien myself nie as iemand wat kanker oorwin het nie.  Dit is, of was nooit in my hande nie.  Daarom verwys ek ook nie graag na die siekte as ’n stryd wat gewen of verloor word nie.  Ek het gekies om my lewe te verryk met dinge wat vir my ewigheidswaarde het.  Om die pad te stap saam met ’n wonderlike man en kinders vir wie ek baie lief is.

Stephanie Bothma en haar man Low is jare lange betrokke lidmate van Stellenberg-gemeente.  Hulle woon in D’Urbanvale en werk beide tans vir Shiloh.