Deur: Rudolph van Schoor
Die Stellenberg Ondersteuningsentrum het soos feitlik alle ander instansies tydens vlak 5 van die inperking, aktiwiteite wat persoonlike kontak vereis, gestaak. Gelukkig kon die sielkundiges en lewensafrigters aanlyn met mense kontak behou en voortgaan om ’n ondersteunende diens vir die gemeente en die wyer gemeenskap te bied. Vanaf Maart tot Julie het 66 nuwe pasiënte van ons aanlyn diens gebruik gemaak.
Die aanlyn sessies was gratis en het as ’n klankbord gedien vir diegene wat gesukkel het om sin te maak van alles wat rondom hulle gebeur. Die impak van die grendeltyd het vir mense op verskillende tye ’n werklikheid begin geword. Vir baie was die spanning en angs wat die situasie ontketen het, ’n onmiddellike reaksie, terwyl ander die uitwerking eers ’n maand of twee later ervaar het.
Dit was aanvanklik vir mense ’n skok om te besef dat die stelsels in die samelewing waarin hulle geglo en op staatgemaak het om hulle te beskerm, skielik verval het. Normale vryheid wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, is ingeperk. Dit het mense emosioneel kwesbaar laat voel en sommige het dit selfs beskryf as verwarrend, of disoriënterend. Die grendeltyd het tot gevolg gehad dat mense ineens besef het hoe kwesbaar hulle menswees en hul finansiële posisie is, en hoe interafhanklik verskillende industrieë en mense van mekaar is.
Soos die grendeltyd aangestap het, het verskillende vorme van verlies in baie mense se lewens ’n werklikheid geraak: die verlies aan inkomste, die prysgee van ’n gemaklike leefstyl, die verbeuring van nabye kontak met geliefdes, die afsterf van vriende en die voortslepende gebrek aan gemoedsrus. Die konstante onsekerheid wat die pandemie ten opsigte van hulle en hul familie se gesondheid versoorsaak het, gepaardgaande met die onmoontlikheid om hul werk voort te sit en vooruitbeplanning vir enigiets te doen, het angs en selfs paniek onder mense gesaai.
Baie mense het ook beleef hoe die letsels van ou trauma en moeilike lewensverhale wat nooit voorheen behoorlik verwerk is nie, skielik weer kop uitgesteek het. Huwelike is onder baie druk geplaas en ou konfliksituasies, onverwerkte emosies, asook nuwe en ou buite-egtelike verhoudings, was alles aspekte wat huweliksbootjies in onstuimige waters laat beland het.
Die verandering in slaappatrone was nog ’n gemene deler tydens die inperking. Baie mense het gekla dat hulle vieruur soggens wakker raak en dan net nie hulle warboel van gedagtes tot bedaring kan bring nie. Mense het ook vertel hoe hulle heeltemal strydig met hulle normale karakter, skielik in trane sou uitbars en goed sê waaroor hulle agterna baie skaam gekry het.
Ongesonde gewoontes, soos ooreet, alkoholmisbruik, te veel koffie drink en kettingrook, is natuurlik ook ingespan om die spanning te demp. In baie mense se lewens het die impak van Covid-19 tot ernstige gemoedsprobleme soos angs, paniekaanvalle, depressie en selfdoodgedagtes aanleiding gegee.
Terapeute en lewensafrigters het mense daarom spesifiek begelei om die krag van ’n bewustelike leefwyse en gereelde selfrefleksie of selfwaarneming, te herontdek. Met dié hulpmiddels het baie mense geleer dat hulle in tye van onsekerheid hul waardes, denkwyse en geloof in die Here moet gebruik om by oplossings uit te kom.
Twee baie belangrike reëls, of liewer leuens, wat almal moes oorkom, is: Ek moet alles sélf kan doen en behartig en tweedens, daar skort iets met my indien ek sukkel en sodoende hulp nodig het. Covid-19 het weer eens mense se wanpersepsies rakende geestesgesondheid ontbloot en uitgedaag. Die pandemie het mense egter inderdaad vry gemaak om hulp te vra. Die kritieke belangrikheid van ’n gesonde geestelike en sielkundige lewe is deur kenners beklemtoon, asook die noodsaaklikheid om jou innerlike gesondheid te koester en te versorg.
Die Covid-revolusie het nie net verander hoe ons besigheid doen, organisasies bestuur, werknemers hanteer, die opvoeding van ons kinders aanpak, ens. nie. Een van die onverwagse geskenke wat die Here vir ons in dié tyd gegee het, is jouself aan jouself. Daar is ’n rykdom aan vervulling wat op ons reis na binne, saam met die Here, oopgebreek kan word. Verandering begin by myself. Indien ek groei in my besigheid of loopbaan wil laat plaasvind en dit verg dan dat ek myself opnuut in die mark moet posisioneer, moet ek by myself begin. ’n Mens se innerlike wêreld het ’n direkte invloed op jou uiterlike wêreld.
Die antwoord lê in die hier en nou opgesluit – om daagliks bewustelik te leef in my verhoudings met mense en ook met God. Dit lê in die tipe vrae wat ek vra – oor myself en my leefwêreld – en die tyd wat ek maak om kreatief met myself en die lewe om te gaan.
Rudolph van Schoor is sentrumbestuurder van die Stellenberg Ondersteuningsentrum, lewensafrigter en traumaberader.