Vanjaar is die antwoorde anders

Deur: Ds. Callie Visagie

Ek lees onlangs die vertelling van ’n senuweeagtige student van Princeton Universiteit in die 1930’s, met die ontvangs van sy eksamenvraestel. Hy voel effens verward.  Vir ’n oomblik word hy deur ’n gevoel van déjà vu oorval,  want alles voel net té bekend, en hy wonder by homself: “Kan dit wees dat die welbekende, gerespekteerde Albert Einstein dieselfde vraestel sal herhaal?”  Die jongman konfronteer sy dosent na afloop van die toets en vereis ’n verduideliking, waarop die dosent antwoord: “Jy’s 100% reg, die vrae is dieselfde, maar vanjaar is die antwoorde anders.”

Daar is ’n versteekte waarheid in dié reaksie en dit het sekerlik ook betrekking op die kerk te midde van ons huidige omstandighede: ons rol, roeping en die werklikheid van dít wat vir ons voorlê in die toekoms. Die afgelope maande het nuwe uitdagings aan die leierskap en predikante se kreatiwiteit en innoverende beplanning gestel. Hoe kan ons effektief bedien, waarop moet ons fokus en  hoe hoor ons die Here se stem te midde van nuwe omstandighede, is van die vrae waarmee ons geworstel het.  Beplanning vir die toekoms en die wyse waarop die gemeentelike bediening gaan lyk,  kan nie meer steun op ou en geykte antwoorde nie.

Die Strategiekommissie van die kerkraad is al die afgelope paar weke hieroor in gesprek met mekaar, met kundige rolspelers, asook met jong lidmate.  Ons vra ons die vraag af – waarheen wil die Here met ons as geloofsgemeenskap beweeg en hoe wil Hy ons gebruik?

In die gesprekke word onder meer na die volgende gekyk en krities daaroor besin:

  • Wat is die kerk en hoe is ’n gemeente veronderstel om te funksioneer? Hoe moet die gemeente ingerig en bestuur word om uiting daaraan te gee?
  • Vlugvoetigheid en die wegbeweeg van vaste strukture moet deel wees van vernuwende denke.
  • Ons eie konteks is belangrik, maar dit staan nie teenoor dit wat ons kan leer uit navorsing en ander kerklike patrone en studies nie.
  • Ons moet daarteen waak om op eilande te funksioneer; ons moet voortgaan om netwerke te ontgin en nie alles alleen probeer doen nie.
  • Besinning oor die aanwending van al die gemeentelike hulpbronne wat ons lidmate, predikante, asook fasiliteite, insluit.
  • Die daarstel van ’n nuwe leierskapbasis vir die gemeente: lidmate wat eienaarskap neem en passievol is oor bepaalde bedienings.
  • Besinning oor die bedieningstruktuur van die gemeente en die rol van predikante en die administratiewe personeel daarin. Daarmee saam moet die volhoubaarheid van die grootte van die huidige predikante- en personeelkorps geëvalueer word.
  • Besinning oor die bronne van gemeentelike bydraes (dankoffers) en die afhanklikheid van ander insamelings, soos onder meer die feesmark.
  • Om die funksionele gebruik van die gemeentelike eiendomme en fasiliteite uit te bou.
  • Die rol van digitale media in die bedieningstrategie van die gemeente en om dit te balanseer met die prioriteit van onderlinge saamwees.

Met dié doel voor oë en as visie Christus, ons Verlosser, leef  het die leierskap en meelewende lidmate oor baie jare heen reeds op ’n skeppende en vernuwende wyse binne die konteks van geloof en meelewing aan hierdie roeping gestalte gegee.

Nou staan ons voor ’n nuwe hoofstuk. Ons nooi elkeen uit:

  • Bid asseblief saam met die leierskap vir wysheid en insig in die onsekere tyd.
  • Waar en waarheen word jy in dié tye as lidmaat geroep? Waar lê jou passie en waar wil jy betrokke raak? Ook – en veral – in hierdie nuwe tye en met nuwe geleenthede wat wag, bly Stellenberg-gemeente ’n gemeenskap van mense wat streef om nader aan God en mekaar te leef, uit te reik oor alle grense heen en voortdurend te vernuwe.