Deur: Ds. René Potgieter
Jy is vrou – spesiaal deur God geskape. Daarom is hierdie artikel vir jou. Mag jy hierdeur versterk en bemoedig word. Ek gesels met jou na aanleiding van die verhaal van Ester en om spesifiek bruikbaar te wees, daar waar God jou ook al plaas.
In die boek Ester lees ons van ’n jong vrou van nederige afkoms wat gekies word om die koning se vrou te word. Dit gebeur in die tyd toe Ahasveros as koning van die Persiese Ryk aan bewind was. Ahasveros hou ’n weelderige partytjie en hy laat roep vir Vasti, die koningin, om met haar voor al sy gaste te spog. Sy weier om haarself ten toon te stel en Ahasveros onttroon haar. Hy is egter daarna so bedruk oor sy besluit, dat sy amptenare hom probeer opbeur deur vir hom ’n ander vrou te vind. In hierdie soektog word ook Ester as ’n moontlike koningin raakgesien en na die paleis geneem.
Albei Ester se ouers was oorlede en sy is deur haar oom, Mordegai, grootgemaak. Ester het ’n goeie indruk op almal in die koning se paleis gemaak. Dit was Ester se uiterlike en innerlike skoonheid wat tot gevolg gehad het dat sy toe as een van die koning se vroue gekies is en uiteindelik as koningin gekroon word. Maar haar posisie as koningin was nie vir haar eie gemak en eer nie, want God het haar baie strategies geplaas.
Dan verskyn daar nog ’n karakter op die toneel, naamlik Haman. Hy was tweede in bevel in koning Ahasveros se koninkryk. As tweede in bevel moes die mense voor Haman buig om aan hom eer te betoon. Mordegai, Ester se oom, het geweier om voor hom te buig. Mordegai se Joodse godsdienstige oortuigings het hom nie toegelaat om voor enige iemand te buig nie. In reaksie hierop besluit Haman om die koning te oortuig dat alle Jode doodgemaak moes word. Haman stel al die leiers in die Ryk in kennis van die beplande aksie om alle Jode te laat vermoor.
Deur Mordegai kom Ester van die plan te hore en Mordegai beveel aan dat Ester by die koning om genade moet gaan pleit. Maar daar was een probleem. Al was Ester die koningin, mag sy nie sonder toestemming die koning gaan spreek nie. Daarom laat weet Ester vir Mordegai dat sy nie kan help nie. Mordegai probeer haar oorreed om ’n plan te maak en voer dié drie redes aan:
- Sy is self ’n Jood.
- Hy glo God sal sy volk verlos.
- Dit is dalk juis hoekom sy koningin geword het en God haar om dié rede in die paleis geplaas het.
Ester doen ’n beroep op die Joodse volk om te vas en te bid en in ruil sal sy haar bes doen deur by die koning vir haar volk in te tree. Sy moet haar lewe egter in groot gevaar stel, want tot nou toe het sy nog nie laat blyk dat sy ’n Jood is nie. Ester gaan wag met groot kalmte in die voorhof van die paleis. Toe die koning haar sien, wys hy die goue septer na haar en sy word na hom genooi. Sy nooi dan die koning en Haman uit na ’n ete wat sy vir hulle voorberei het.
Tydens die ete vertel Ester dat sy en haar volk eers verkoop is en nou ook uitgelewer word om te sterf en dat daar reeds ’n galg vir Mordegai se teregstelling gebou is. Die uiteinde van die verhaal is dat ’n nuwe edik uitgevaardig word waarin dit duidelik gestel word dat die Jode veilig sal wees.
Die diepste indruk wat dié Bybelboek by ons laat, is dat God op ongelooflik fyn beplande maniere teenwoordig is in alles rondom ons en in alles wat met ons gebeur. Ek glo met my hele hart dat God jou geplaas het op die plek waar jy vandag is, met ’n baie spesifieke plan en doel. Jy is nie toevallig in die lewe nie. Jy het spesiale gawes en vermoëns en die Here wil jou gebruik.
Die meeste van ons sal dalk nooit soveel invloed soos die weesdogter, Ester, hê nie. Nog minder sal een van ons ’n koningin word. Maar as ons die soewereine hand van God ken, kan elkeen van ons vir seker weet dat waar Hy ons geplaas het, ons ’n doel het, veral in ’n tyd soos hierdie en juis te meer in ’n land soos Suid-Afrika. Ons moet tot seën wees vir ander en daardeur wys wie ons God is. Blom waar jy geplant is!
Blom waar jy geplant is, want hier en nou, is waar jy moet wees.
Soos ’n ou wilgerboom by ’n waterstroom het jy wortelgeskietom koelte te bied.
Soos die sonneblom is jy na die son gedraai.
Met ’n vriendelike gemoed om ander te paai.
Jou borrelende fontein bied soet water om te drink.
Mag ander geluk in jou lewe vind.
Mag God jou in sy hande hou.
En in elke lag, sien ook sy liefde en trou.