’n Ekonomiese krisis noop ons tot vernuwende denke

Deur: Dirk Brand en JP Cronjé

Good economic activity arises, ultimately, from humans behaving well towards each other. A healthy economy requires that each person view another with dignity. (Davies, A. The role of religion in the economy, International Journal on World Peace, 2004)

Covid-19 het die wêreld radikaal verander.  Kerke moes ook skielik anders begin dink en doen om aan te pas by die nuwe realiteit wat hierdie pandemie geskep het.  Selfs aan die begin van die inperkingstyd was dit duidelik dat die ekonomiese krisis wat die gevolg van streng inperkingsmaatreëls is, ernstige gevolge vir die breë gemeenskap sou inhou.  Ons het dit ook in Stellenberg besef en Projek Samaritaan, wat fokus op die grootste maatskaplike behoeftes tans, is gebore.  Een van die pilare van Projek Samaritaan is die ekonomie en dit bestaan uit twee elemente, naamlik: die vestiging van ’n aanlyn platform vir klein ondernemings om hul produkte en dienste te bemark (www.stellenberg.co.za/samaritaan2/) en professionele advies vir mense wat ’n besigheid wil begin of nuwe geleenthede daarvoor soek.

Die kansellering van die jaarlikse feesmark vir 2020, wat ’n groot geleentheid vir baie entrepreneurs in die omgewing en ver buite ons grense is, laat ’n reuseleemte wat moeilik gevul gaan word.  Natuurlik is dit nie net ’n groot verlies vir die gemeente nie, maar dit het ook ’n beduidende negatiewe impak op baie klein ondernemings.  Die hoop is dat die Aanlyn Samaritaan ten minste ’n gedeelte van die nagevolge sal afweer, maar dit is duidelik dat nog meer vernuwende denke nodig is om professionele dienste en entrepreneurskap te stimuleer en te ondersteun.

Heelwat navrae wat ons uit die gemeente ontvang het,  was gefokus op die skep van bemarkingsgeleenthede en sommige vrae het gegaan oor die regsvereistes vir die vestiging van ’n besigheid.  Ons is dankbaar vir die professionele kundiges wat hul advies gratis aanbied om hierdie navrae te beantwoord.  Ons sal voortgaan om hierdie entrepreneurskap-ondersteuningdiens as deel van Projek Samaritaan aan te bied, maar ontvang graag ook terugvoer ten einde aanpassings te maak waar nodig, sodat ons deurgaans ’n diens kan lewer wat behoefte-gedrewe is.  Enigeen wat versoeke wil rig vir professionele advies, se versoek sal vertroulik hanteer word, tensy u self anders aandui.

Gesien vanuit ’n Christelike perspektief, moet die herstel van die ekonomie berus op menswaardigheid, inklusiwiteit en die skep van geleenthede om mense se potensiaal te ontwikkel.  Die kerk kan in hierdie verband ’n positiewe rol speel deur  beleidmakers te probeer beïnvloed, maar ook ’n aktiewe rol vervul om met hierdie uitgangspunte ekonomiese ontwikkeling op plaaslike vlak te ondersteun. Die kreatiwiteit en innoverende denke waarmee ons in Stellenberg geseën is, kan goed gebruik word tot voordeel van die breë gemeenskap.

Potensiële geleenthede wat verder ondersoek kan word, is bv. die benutting van die markplein as ’n koffiewinkel gedurende die dag, ’n gemeenskapsmark met produkte vanuit die Durbanville-omgewing en dalk ook ’n platform vir die bemarking van produkte van entrepreneurs vanuit areas waar Stellenberg as gemeente betrokke is.

Die krisistyd wat ons tans beleef,  moet nie ons ondernemingsgees en oorspronklike denke demp nie.  Inteendeel, in Stellenberg strewe ons daarna om voortdurend te vernuwe.  So bly ons as kerk relevant en gee ons nuwe inhoud aan die praktiese uitlewing van ons geloof.

 

Dirk Brand | Leierouderling kan by dirkjbrand1@gmail.com gekontak word.

JP Cronjé | Verbonde aan die US Bestuurskool.