Knap handewerk deur ’n sewentienjarige

Die sewentienjarige Dean van Schoor het eiehandig 118 maskers gemaak en aan die Klipheuwel Primêre Skool geskenk.  Dean, wat gereeld by Stellenberg-gemeente se jeugdienste en die Annibrand Senior-kategesegroep inskakel, is ’n leerder van Fairmont Hoërskool en ook ’n lid van die 1st Durbanville Scout-groep.

Hy is besig om vir die hoogste toekenning in die Scout-groep te werk en moet onder andere minstens 40 uur gemeenskapsdiens doen om die toekenning te verwerf.

“Ek het gehoor die kerk maak maskers vir minderbevoorregte mense bymekaar en het toe besluit om dit my projek te maak,” sê Dean.  “Ek het 100 maskers self gemaak en 18 donasies van mede-Scouts ontvang.  My ouers was gaaf genoeg om die materiaal vir my projek te borg.”

Dean sê hy het besluit om na die oorhandiging van die maskers eers ’n ruskans te neem.  Hy sou graag een van die gemeente se uitreike wou meemaak wanneer dit weer hervat.  Oor hoe Covid-19 hom persoonlik beïnvloed, sê Dean dat dit regtig moeilik is om met skoolwerk by te bly terwyl die skole gereeld gesluit word.  Die aanlyn leerdery is ook vir hom baie moeilik.

Sosiale media en nuusblaaie doen gereeld verslag oor gewone mense wat  tydens die landwye inperking ’n verskil in ander se lewens maak.  Ons lees van brouerye wat begin sop kook (sien die berig oor twee van ons ouderlinge wat gaan hand gee het by die brouery), individue wat kos aan armes uitdeel en  selfs van ’n bekende kunstenaar wat ’n vriendin se sukkelende koffiewinkel in Kakamas met verf en kleur  in ’n ruimte omskep het, waar mense nou toustaan om te gaan koffie drink.  Dit herinner ’n mens weer opnuut daaraan dat dit die gewone mense in ons land is, mense soos Dean van Schoor, wat ’n verskil maak.  Doen so voort, Dean.  Red.