Edelweiss-bediening raak elektronies, eensydig en eensaam!

Deur: Dr. Theo Swart

Die bediening by Edelweiss het in die verlede weeklikse Bybelstudie, persoonlike besoeke op Donderdae, ’n bykomende Bybelstudie-geleentheid elke Donderdag vir twee groepe van ongeveer 50 mense elk en preke so twee keer per maand, behels. Verjaarsdae is ook altyd met die oorhandiging van ’n kaartjie en persoonlike gelukwense gevier.

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie moes eers Edelweiss se versorgingseenheid en toe die hele dienssentrum,  vanaf 19 Maart drasties ingeperk word. Inwoners kon glad nie die sentrum verlaat nie en net personeel kon onder streng kontrole binnegaan.  Met die gevolg, my bediening aan die groep Edelweissers het skielik heeltemal verander.

Nou is dit ’n stappie met my honde wat help dat ek deur die heining (verder as 1,5 meter van mekaar) met enkele van die inwoners kan gesels, vir die ander wat deur die vensters loer te waai en om almal wat verjaar, te bel.  Tydens Pinkster is die klankbaan van die dienste per WhatsApp aan inwoners gestuur en alle preke word ook nou op dié wyse versprei.  Tweetalige preke wat ek in my gemeente in  Parowvallei-Oos aanbied, word ook per WhatsApp aangestuur vir diegene wat wil luister.  Oom Franz Reinke en Elsa Prins het nou in knap elektroniese-kosters ontwikkel, wat sonder moeite sorg dat almal na die eredienste kan luister.

Die grootste uitdaging vir my is tans die gevoel van eensydigheid – dis so moeilik om skielik nie meer persoonlike kontak met die mense saam met wie ek al sewe jaar lank ’n pad loop, te hê nie.  Dit voel vreemd om ’n hospitaalbesoek in die hoësorgeenheid – kan jy dit glo – per telefoon te doen, oor die telefoon te bid en simpatie en verjaarsdagwense oor te dra sonder om iemand in die oë te kyk.

Die hoogtepunt van my werk die twee laaste maande was toe ek en my dogter harte met industriële lint op twee van Edelweiss se hekke aangebring het. Daar was ongeveer 50 toeskouers en ons is van ’n veilige afstand deur die inwoners aangemoedig en verwelkom.  Dit was die meeste Edelweissers wat ek in ’n baie lang tyd bymekaar gesien het.  Dit was so lekker om weer met mekaar te kon praat en saam te lag – veral oor die hart oorkant Stellenberg se kerk wat meer na ’n mond as ‘n hart  gelyk het, maar dis mos die gedagte wat tel en hulle weet wat ek en my dogter bedoel het.

Net soos Edelweiss se mense eensaamheid beleef, het ek ook met dieselfde emosie begin worstel omdat ek hulle so mis!  Mag die Here se genade by ons almal wees sodat Edelweiss se bediening weer persoonlik, veelsydig en almal saam, mag wees!