40 geskenke wat Covid-19 aan my gegee het

Deur: Dr. Braam Hanekom

Daar is ’n gesegde wat lui dat elke donker vallei ’n geskenk aan jou bied. Net jy kan dit vind en net jy kan dit oopmaak. Met COVID-19 is dit nie anders nie. Die afgelope dae het ek gaan sit en nadink oor die mooi en goeie goed wat ek die afgelope tyd om my waargeneem en ontvang het.

  1. Ek het my huis weer leer waardeer. Vir te lank was dit net ’n oorslaapplek in ’n te vol lewe. Ek kon regpak, mooimaak en hierdie ongelooflike gawe uit God se hand opnuut waardeer. Ek kon die voëls in die tuin hoor sing en het meermale gevoel ek wil sommer saamsing.
  2. Die feit dat vliegtuie minder gevlieg het en motors minder gery het, het ’n groot rustigheid in ons omgewing meegebring. Die behoefte aan minder lug- en padverkeer waaroor ons so lank gepraat en voor gepleit het, het danksy Covid-19 gebeur.
  3. Daar is wonderlike nuwe netwerke in plaaslike gemeenskappe gestig. Mense het uitgereik, saamgestaan en mekaar op ’n nuwe manier leer ken en dien.
  4. Gesinne het vroegoggend saam gaan stap. Ek kan nie onthou dat ek al ooit soveel gesinne saam sien stap het nie.
  5. Ek het nuwe maniere van bid ontdek. Die Zoom-gebedsbyeenkomste wat ek met medelidmate, maar ook ekumeniese vriende gehad het, was van my mees spesiale en mees intieme gebedsgeleenthede ooit.
  6. Daar was tyd om na te dink – oor alles. Nuwe prioriteite, nuwe maniere van werk, ’n nuwe manier van dink oor die samelewingsorde, die ekonomie, die politiek en die kerk.
  7. Die verrassende geselsies met bure oor die muur was heerlik en spesiaal.
  8. Ons het weer ontdek dat die mens ten diepste ’n sosiale wese is. Ons maak mekaar seer en selfs dood, maar ons het mekaar so nodig. Die gawe van aanraking en ’n gesig wat jy vol sien glimlag, is iets wat ons mis, maar ons het dit weer leer waardeer.
  9. Ons het opnuut geleer dat oumense baie eensaam kan wees en hulle omstandighede is in die dae van inperking onder die vergrootglas geplaas.  Mag ons na die inperking met groter sensitiwiteit teenoor die oues van dae optree.
  10. Dieselfde geld vir terminale pasiënte. Om te sterf kan baie eensaam wees en mense angstig laat, al is ons gelowiges. Sulke mense het besonderse ondersteuning nodig.
  11. Ek het opnuut geleer hoe ’n groot geskenk my kleinkinders is. Ek mis hul so baie.
  12. Die laatmiddag- en ook laatoggend-koffies saam met my vrou was kosbaar. Ons kon diep gesprekke hê oor ons kinders, ons prioriteite en die toekoms.
  13. Dit het my lank geneem om weer in ’n behoorlike en ruim gebedsritme te kom. Ons besef nie altyd hoe maklik besige mense verleer om te bid nie.
  14. Die vroegoggend oefen, as die son opkom, was kosbaar. Ons móés, want die regering het besluit (om redes wat net hulle verstaan) dat ons net tussen ses en nege kon oefen.   Ek was meestal van agtuur af in vergaderings, so ek moes vroeg oefen, wat ek nie gewoonlik doen nie. Dit was toe tog alte lekker! (En glad nie so koud nie . . . )
  15. Die eerste keer wat ek weer die see na ’n paar weke kon sien, was ongelooflik.
  16. My skoonma is in die grendeltyd begrawe. Ons het ’n Zoom-uitsending gereël en vriende en familie regoor die wêreld kon daarin deel. Sonder Covid-19 sou ons seker nooit daaraan gedink het nie.
  17. Soos ons begin besef het dat kos al skaarser sou word, en kosuitdeel nie volhoubaar is nie, het ons groentesaad begin versprei. Mag dit sommer baie nuwe moontlikhede open.
  18. Ek het tyd gehad om lank na die baldadige gespeel van die eekhorings in my tuin te sit en kyk.
  19. Elke glasie wyn is stadig, versigtig en met waardering gedrink. Ek was van vooraf dankbaar dat ek nie rook nie.
  20. Daar was dae dat ’n mens besef het dat hierdie ’n onnatuurlike situasie is en dat jou emosies deurmekaar kan loop. Dit was is ’n tyd vir vasbyt, selfdissipline en die opbou van innerlike krag – deur dit wat jy self kan doen en veral wat God vir jou doen.
  21. Ons dink nie maklik vanself ernstig oor die dood nie. Dit wat ons so maklik en vanselfsprekend glo, moes opnuut deurgrond en getoets word. Ons het ontdek dat geloof inderdaad kosbaarder is as goud.
  22. Ek het 60 geword in die tyd en is gespaar van die verpligting en sosiale druk om ’n groot partytjie te hou.
  23. Ek het geleer om goed wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie, self in die huis aan te pak.
  24. My sosialemediavaardighede, asook ander middele van kommunikasie, soos deur TEAMS en ZOOM, is opgeskerp.
  25. Genadiglik hoef ek vir ’n paar maande nie die binnekant van OR Tambo-lughawe te gesien het nie. Wat nog te sê die binnekant van ’n vliegtuig.
  26. Ure se reistyd is gespaar.
  27. Ek kon vir my kleinkinders wolf-en-jakkals-stories oor Zoom vertel. Daardie gesiggies wat vasgenael voor die skerm sit, sal ek nooit vergeet nie.
  28. Seker omdat die restaurante toe was, was sommige vleispryse die laagste in jare.
  29. So ook petrol . . . net jammer ons kon nie ry nie.
  30. My hare was weer so lank soos toe ek student was . . . en my vrou het dit gelove . . .
  31. Ek het eenvoudiger en minder formeel aangetrek en dit het niemand gepla nie.
  32. ’n Mens kon lekker koffie en beskuit in Zoom-vergaderings sit en drink en eet en niemand het ’n snars omgegee nie.
  33. Dit het nie meer saak gemaak dat jy nie geld het om oorsee te reis nie, want niemand kon dit buitendien doen nie.
  34. Jy het opnuut besef hoe wonderlik (en virusvry) die oop ruimtes van die Karoo is.
  35. Mense het lankal voorspel dat ons ’n nuwe samelewingsorde nodig het. Skielik het jy besef dat jou geslag die een is wat realisties daaraan kan meewerk en daarvoor onthou sal kan word.
  36. Gewone mense kon ’n sakgeldjie uit naaldwerk (maskers) verdien.
  37. Ons het minder geld verdien, maar het baie gespaar.
  38. Ek het al minder aan sommige WhatsApp-groepe begin aandag gee.
  39. Sommige politici is ontmasker vir wie en wat hulle regtig is.
  40. Ek het opnuut besef hoe afhanklik ek van God is.