31 Oktober 1517 – die begin van ’n nuwe era
Deur: ds. Marius Breytenbach
Dinsdag 31 Oktober het ons kerkklok vroegoggend weergalm ter viering van die Reformasie. Op dié dag, vyfhonderd jaar gelede in 1517, het Martin Luther 95 stellings van kritiek teen die Rooms Katolieke Kerk aan die aartsbiskop van Mainz in Duitsland gestuur. Volgens tradisie was dit die Wittenberg Universiteit se gebruik om sulke kennisgewings aan die plaaslike kerkdeur vas te spyker. Luther se optrede is aangevuur deurdat die pouslike kommissaris, Johann Tetzel, na Duitsland gestuur is om deur die verkoop van aflaatbriewe geld vir die herbou van St. Pieter se Basilika in Rome in te samel. Deur die koop van ’n aflaatbrief het die pous aan gelowiges die versekering gegee dat hulle na hul dood “afslag” op hulle sondestraf kon verwag. Luther se stellings was ’n openlike verset teen die valse beloftes en oppergesag van die pous. Danksy die nuwe tegnologie van die boekdrukkuns het Luther se versetskrif vinnig deur Duitsland en die res van Europa versprei en oral ’n gees van hervorming aangewakker.
Luther se uitgangspunt en beskouinge was op die Bybel gegrond. Daarin het hy die fokus opnuut laat val op getuienis oor God se genade, geloof en Christus. Dit het radikale nuwe perspektiewe oor God by gewone mense aangewakker. ’n Mens moet in gedagte hou dat tot voor die Reformasie die meeste gelowiges nie die Bybel, wat net in Latyn beskikbaar was, kon lees en verstaan nie. Luther se grootste bydrae tot die Reformasie was nie net sy 95 stellings nie, maar sy vertaling van die Bybel uit Grieks in Duits. Dit het ’n nuwe era van vertalings in verskeie volkstale ingelui. Deur Luther se vertaling kon dus verder klem geplaas word op hoe die Bybel gelees en geïnterpreteer behoort te word en het dit ’n algehele ommeswaai in die bestudering van die Bybel tot gevolg gehad. Die Reformasie was allermins net ’n godsdienstige transformasie. Dit het ook gelei tot politieke, intellektuele en kulturele (musiek en kuns) veranderinge, wat die aanbreek van die moderne era gekenmerk het.
Die betekenis van die Reformasie in ons lewe vandag kom neer op die bestaan en funksionering van ’n kerk wat vanuit sy bestudering van die Bybel betekenisvol en gepas toegerus moet wees vir die uitdagings en geleenthede van die tyd en samelewing waarin ons ons bevind. Dié ideaal word sterk verwoord in Stellenberg-gemeente se visie en missie: Jesus ons Verlosser leef, daarom is dit ons strewe om uit te reik oor alle grense. Die missie en visie vind uiting in die werking van die gemeente. Ons sien daarna uit om saam met ons lidmate hierdie reis voort te sit.