Maggie Rabie, foto links, is sedert Julie 1984 ’n bekende en meelewende lidmaat van die gemeente. Tydens die feesmarktyd bied dié oudonderwyseres ook haar hulp as vrywilliger by die mark aan deur daagliks ’n tweeuur-lange diensbeurt by die feesmark te doen.
Karen Visagie, feesmarkorganiseerder, vertel dat Maggie daagliks vir diens aanmeld en dan meestal in die kleinsaal, tussen die kositems, behulpsaam is met die uitpak van voorraad. “Sy is getrou, elke dag, op haar pos en altyd bereid om te help,” sê Karen. “Sy het op 81-jarige ouderdom 12 ure vrywillige diens by die feesmark gedoen.”
Marlien Henrico, 25 jaar oud, en ’n voltydse binnenshuisversierder, het in Septembermaand die groot taak op hande geneem om die kerk se vaal en vervelige moederskamer op te vrolik. Marlien het dié pragtige muurskildery wat nou in die moederskamer pryk, smiddae na werk op die moederskamer se muur aangebring en is tans nog besig om die babakamer waar ouers doeke kan omruil, ook met haar verfkwas by te dam. Dié talentvolle meisie het in Secunda grootgeword en het ongeveer sewe jaar gelede saam met haar ouers na Durbanville verhuis. Sy spandeer elke middag twee ure na werk aan die muurskilderye en is ook lid van die gemeente se selgroep vir jong volwassenes.
Maggie en Marlien, julle twee is voorwaar ’n inspirasie en ’n aanwins vir Stellenberg-gemeente. Red.