Dagstuk | Dinsdag 14 November 2023

Vandag se tema: Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op die dae van ons lewe.

 Prediker 7:10. Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie.

Waarom praat ons altyd van die “goeie ou dae”? Is die lewe en wêreld inderdaad besig om al hoe slegter en slegter te raak? Dit is opvallend hoe sommige Christene getroos voel deur altyd na dinge wat in die wêreld verkeerd loop, vinger te wys en die tekens van die tye, daarvoor skuld te gee en dan voor te gee dat daar vir ons iewers vorentoe iets beter wag. Ja, ons glo dit, maar dit is nie wys om voortdurend te sê die ou dae was beter nie. Die ou dae het ook sy uitdagings gehad en dae wat nog kom hou ook ’n bepaalde vorm van seën in. Hierdie realiteit is belangrik omdat dit ’n baie groot verskil maak in hoe ons vandag lewe. Dit is wat die Prediker oor getuig. Gelowiges is nie mense wat net sit en wag op beter dae nie. Hulle is mense wat die dag aangryp as ‘n gawe van God en die geleentheid daarvan kan realiseer. Dit is met hierdie gesindheid wat ons op die weerkoms van die Here wag. Prediker het deur lewenservaring geleer om die goeie en slegte dae as dieselfde geskenk van die lewe te sien. Om deur God vernuwe te word beteken dat die Here voortdurend besig is om ons perspektief op die verlede, hede en toekoms te verander. Ons inspirasie en krag vir vandag lê nie net in die herinnering aan die goeie van die verlede nie, maar in die verwagting dat die dag wat op my wag oormore se goeie ou dae is.

Gebed

O genadige en Heilige Vader, gee my vandag die wysheid van dae. Die insig om deur die hoogte en laagtepunte van my lewensdae te kyk en die groot gawe van lewe raak te sien. Omvorm my kort asem, my uitasem en my asem ophou – tot asemrowend. Help my vandag om die eenvoud van die gawe van lewe te onderskei in die kompleksiteit van dinge wat op my wag. Gee my ‘n diep waardering vir die lewensasem wat U in my ingeblaas het en waardeur U my in staat gestel het om vandag ‘n besondere dag te maak. Amen.