2021 – na 50 jaar vier Stellenberg ’n goue jubileum

Gemeenteleraars deel hulle persoonlike belewenis van Stellenberg-gemeente.

Eerste aan die woord is Philipp Dietmann, tentmakerleraar van die gemeente.

Iemand het eens gesê dat die langste weg soms die kortste pad huis toe is.  My reis met Stellenberg-gemeente was ’n reis van lang paaie, wat my uiteindelik weer teruggeneem het na waar ek begin het.

Ek is in hierdie gemeente gedoop.  Nadat ons weggetrek het Johannesburg toe en ek klaar gestudeer het op Stellenbosch, het ek op ’n vreemde manier my pad weer teruggevind na die plek waar my lewe begin het.  Hier kon ek toe ’n geloofstuiste vind en het die mense van die gemeente my geleer wat saamreis beteken en ook wat dit beteken om op pad te wees met medereisigers.
Stellenberg is ’n gemeente wat uitreik oor alle grense heen.  Dit het my ’n tydjie geneem voordat ek werklik verstaan het in watter gemeente ek gedoop is, want op ’n jong ouderdom ervaar ons mos die wêreld as vanselfsprekend oop, grensloos, vriendelik en huislik.  Maar dis die aardige van reis en op pad wees en boonop van menswees – ons verander en ons groei.  Die lewe en mense skaaf aan ons en sodoende leer ons baie vinnig dat grense nie net fisies is nie, maar dat dit ook in ons harte leef.  Grense skei ons van ander mense en van God.

Maar binne die Stellenberg-gemeenskap het ek geleer dat die kortste pad, ook die langste pad kan wees.  Dié gemeenskap het my geleer dat wanneer ons die verhouding met onsself, met ander, die omgewing en met God, mooier en meer betroubaar wil maak, daar geen kortpaaie is nie.  Hierdie doop-gemeenskap van my glo dat liefde gevier moet word, waar ons ook al gaan – selfs al neem dit ons na plekke en mense wat ons ongemaklik laat voel. Juis dit het my uitgenooi om die grense in myself, asook dié tussen my ander mense en dié tussen my en God, oor te steek, sodat God se nuwe wêreld oral kan skyn.

Dis nie altyd maklik nie, maar ek dink dit is die rede hoekom ons nie alleen moet stap nie.  Ek is bevoorreg om hiérdie pad saam met hiérdie gemeenskap te stap. Dis die langpad van die lewe, waar daar geen vinnige en eenvoudige antwoorde is rakende ou en nuwe grense wat ons moet oorsteek nie.  Daarom kies ons as gemeenskap die uitgerekte kuiers en die viering van die lewe waar ons al die momente van die lewe gedenk – die goeie en die slegte. Hier word ek daagliks daaraan herinner dat daar by God se groot tafel altyd plek vir almal is.  Daar is oorgenoeg sitplek, almal word waardeer en elkeen se storie word ontvang en met deernis en sagtheid vasgehou.  Dis die langpad, maar dis ook die kortste pad huis toe.

Theo Swart, deeltydse leraar verantwoordelik vir Edelweiss Dienssentrum.


Op 1 Maart 2013 het ek op deeltydse basis deel van Stellenberg se span geword met die opdrag om die ACVV Dienstak Edelweiss te versorg.   Meer as ag jaar en ook meer as 200 begrafnisse later, kan ek met dankbaarheid terugkyk op hierdie wonderlike voorreg!

Ek kon deel word van mense se lewens en saam met talle hulle laaste stukkie hier op aarde stap.  Die weeklikse Bybelstudie het ons gehelp om deur verskeie boeke van die Bybel te werk en baie by mekaar te leer.

Edelweiss het deel van my lewe geword en ek het ook deel van Edelweiss se lief en leed geword – onder die inwoners en ook die personeel.  Covid-19 het ook by Edelweiss tot isolasie en ander uiterste maatreëls gelei, en eise gestel wat vir die inwoners, personeel en myself baie traumaties was.  Ons moes vinnig alternatiewe vind om steeds die bediening te laat aangaan – en hopelik het ons daarin geslaag. Baie dankie aan Stellenberg wat dit finansieel moontlik maak om hierdie liefdesdiens by Edelweiss te verrig.  Stellenberg se bydrae help boonop dat die bediening in my eintlike gemeente, Parowvallei-Oos, ook byna voltyds kan voortgaan.

Hanno Ackerman, voltydse jeugleraar


Ek is maar nog net so drie tot vier jaar deel van Stellenberg se 50-jarige geskiedenis, maar ’n mens besef vinnig hoe bevoorreg jy is om deel van dié gemeente te wees. As die jongste leraar in die huidige leraarspan, is dit vir my ’n voorreg om deel te wees van dié ryk geskiedenis en die impak wat die gemeente op mense se lewens het.

Die naam Stellenberg-gemeente dra soveel waarde, nie net in die Durbanville-omgewing nie, maar regoor die land. Die impak van ons jeuguitreike, ons dienste en ons mense, strek oor baie grense heen.  Stellenberg is bekend vir vernuwende idees en besluite en ek beskou dié gemeente en sy lidmate as baanbrekers.  Om hier te werk bly vir my ’n groot voorreg en ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek het om in die gemeente te dien.

Marius Breytenbach, voltydse gemeenteleraar


Ons gesin se reis met Stellenberg-gemeente het in Julie 2004 begin toe ons vanaf Kleinmond hierheen verhuis het. Dit voel asof die afgelope 17 jaar verbygevlieg het; tyd in die gemeente wat ons as gesin by diep en betekenisvolle plekke saam met kosbare mense uitgebring het.

Wanneer ’n mens dus nou skielik saam met die gemeente se 50ste bestaansjaar oor die verlede terugdink, beleef ’n mens die seën van hierdie jare en kom jy opnuut onder die indruk van dankbaarheid. Stellenberg is die gemeenskap waar ons kinders in die voorskool, laer- en hoërskool gevorm is.  Wonderlike jare wat altyd by hulle ingegraveer sal bly.  Hier het ons hegte vriendskappe gevorm, wat ons tot vandag toe nog koester.

’n Mens is dankbaar om vir jare deel te kon wees van ’n gemeenskap van mense wat jou in hulle huise en persoonlike lewens ingelaat het en in wie se diep hartseer en vreugdes jy met hulle kon deel.  Ek is veral baie dankbaar vir die vele kollegas – 11 saam met wie ek gewerk het.  Elkeen se unieke kundigheid en menswees het my op ’n besondere wyse aangeraak en verander.  Die een ding wat my altyd van die kollegaspan en medewerkers in die gemeente sal bybly, is die waagmoed wat aan die dag gelê word om jaarliks nuwe gestalte aan ons gemeente waardes te gee: Nader aan God, nader aan mekaar, om voortdurend te vernuwe en ’n verskil in die wêreld te maak.  Ek is trots om hiervan deel te kan wees en dit gee my moed vir die groot uitdagings wat ons vandag, met die 50ste viering van ons bestaanjaar, in die gesig staar.

Why Duvenhage, voltydse leraar verantwoodelik vir getuienis en barmhartigheid


Stellenberg: “Gemeente met ’n uitreikhart”

Ek en my gesin het die voorreg om alreeds sedert 2000 aan Stellenberg-gemeente verbonde te wees.  Dit was en is, om die minste te sê, ’n opwindende reis met baie avonture en wonderlike belewenisse.  Allereers het dit die geestelike tuiste vir ons as ’n gesin geword, waar daar baie geleenthede vir ons kinders was om betrokke te raak by die jeugaktiwiteite van die gemeente.   Ek glo dat dit juis tydens die jeugbediening en uitreike was, waar twee van ons kinders ook die roeping ontvang het om voltyds in die bediening te tree.  Vir my as predikant was dit ’n wonderlike geleentheid en uitdaging om lidmate te begelei in ’n proses van omgee en uitreik.  Ek het die voorreg gehad om vir ds. Willem Malherbe, wat ’n wonderlike fondasie gelê het vir die getuieniswerk van die gemeente as my voorganger in die bediening te hê.

Wat my veral opgeval het, is die harte van Stellenbergers. Harte wat omgee, en wat bereid is om te dien deur hande en rande.  Dit was en is, die grootste voorreg om saam met sulkes in die koninkryk van God te dien.  Oor die afgelope 15 jaar heen kon ek veral sien hoe jongmense, tieners en studente, deur hulle blootstelling aan ons uitreikgemeenskappe, werklik gevorm word tot volwasse gelowiges.  Die toewyding, energie en entoesiasme van hierdie jong uitreikers sal my my lewe lank bybly.  Verdere hoogtepunte was natuurlik die kampe, waar ek die voorreg gehad het om saam met die jeugleraars betrokke te wees en waar ons kon sien watter groot invloed dit op opkomende leiers in die kerk het.

Ek wil veral ook hulde bring aan kollegas saam met wie ek die voorreg gehad het om die afgelope jare ’n pad te loop.  Dis ’n interessante, besondere klompie predikante in die span wat saamwerk, ongeag bepaalde verskille wat mag bestaan.  Hegte vriendskappe het hier ontwikkel.
Die leuse van Stellenberg: “Reik uit oor alle grense” het my persoonlik elke dag geïnspireer vir die bediening hier en sal altyd vir my ’n lewensroeping bly.

Ek wil van die geleentheid gebruik maak om vir die honderde jongmense saam met wie ek die afgelope 15 jaar kon werk op kampe, uitreike en Reach, maar ook die volwassenes wat daarby betrokke was, baie dankie te sê.  Min predikante het die voorreg om in so ’n gemeente te kan dien en mense te begelei om as dissipels van Jesus, ’n verskil in die wêreld te maak.
Mag Stellenberg in die volgende 50 jaar voortgaan om ons wêreld ’n beter plek te maak deur mee te werk om sy koninkryk uit te brei.  Alle eer aan God wat hierdie gemeente, ook in die huidige moeilike omstandighede, vashou.

René Potgieter, voltydse gemeenteleraar


Wat ’n voorreg om deel van die Stellenberg-familie te wees.  Die afgelope drie jaar in die gemeente was vir my persoonlik ’n tyd van aanpassing en groei.  Stellenberg-gemeente het egter ’n veilige ruimte daarvoor geskep en ek het die mense van die gemeente begin liefkry – lidmate wat deur hul menswees ’n verskil in die wêreld maak.

Hierdie jaar is Stellenberg-gemeente 50 jaar jonk. ’n Gemeente wat diep spore in baie mense se lewens gelaat het.  Net soos ons belydenis verwoord, het ons nie net nader aan God en mekaar gegroei nie, maar ook uitgereik oor grense heen en in mense buite ons gemeente se lewens ’n verskil gemaak.

My gebed vir die gemeente is dat mense hier ’n veilige geestelike tuiste sal vind. Dat God se Naam uitermatig groot gemaak sal word.  Dat ons deur dit wat ons doen, God se koninkryk sal laat kom en sy wil sal laat geskied. Seën vir die volgende 50 jaar.

Callie Visagie, voltydse gemeenteleraar


Stellenberg-gemeente ’n ruim geestelike (Gereformeerde) huis!

Dit is ’n voorreg om binne die gemeente se strewes van “nader aan God, nader aan mekaar, maak ’n verskil in die wêreld en vernuwe voortdurend” te ervaar dat predikante en lidmate opreg poog om binne ’n gebroke wêreld hieraan gestalte te gee.

Wat ek oor die bykans 25 jaar as predikant in die gemeente koester en waardeer, is die afwesigheid van kleinlike, gemeentelike politiek (Rick Warren:  ” . . .  the greatest wounds usually come from other sheep, not wolves.”); die voorreg om saam te werk met ’n verskeidenheid uiters bekwame en toegewyde kollegas, begaafde, gebalanseerde en koelkop leierskap; energie en praktiese, realistiese planne in die kerkraad en in die gemeentelike aksies en waar lidmate nie heeltyd oor die predikante se skouers loer nie, maar in vertroue met mekaar saamwerk.

Ek was tot dusver bevoorreg om deel te wees van die gemeentemissie “Reik uit oor alle grense heen” om sodoende op vele plekke ’n verskil in honderde lewens (onder ons eie lidmate en bedieningsplekke) te kon maak deur mense aan die evangelie-boodskap bloot te stel.  Dit kon alleen gedoen word deur die meedoen en ondersteuning (geestelik, finansieel, emosioneel en andersins) van die volle gemeente.  Ek het beleef wat dit beteken “om met oop hande te leef”, en met vele inisiatiewe in agtergeblewe en hulpbehoewende gemeenskappe ’n verskil te maak. Maar net so is lede van ons eie kerkfamilie, soos die Vosburg- en Op-die-Berg-gemeentes ondersteun – alles deur die ondernemingsgees van toegewyde en energieke lidmate van die Stellenberg-familie se toedoen.  Om oor jare heen ook deel te kon wees van die span wat verantwoordelik was vir die feesmark, sowel as die seën wat voorgevloei het vanuit die fondse wat daardeur gegenereer is, was ’n wonderlike voorreg.

Wanneer ’n mens terugkyk oor die grootste gedeelte van jou loopbaan, is jy met dankbaarheid vervul omdat daar liefdevolle ruimtes geskep is waarin ’n mens saam met kollegas en lidmate aan ’n uitkringende geloofsgemeenskap kon bou.  Daar is vele kinders van die Here wat sou kon identifiseer met die wyse waarop geloof hier uitgeleef en toegepas word, en dié waardes en waarhede steeds kan eggo!