“Op 1 Maart 2013 het ek op deeltydse basis deel van Stellenberg se span geword met die opdrag om ACVV Dienstak Edelweiss te versorg. Meer as 8 jaar en ook meer as 200 begrafnisse later, kan ek met dankbaarheid terugkyk op hierdie wonderlike voorreg! Ek kon deel word van mense se lewens en saam met talle hulle laaste stukkie stap hier op aarde. Die weeklikse Bybelstudie het ons gehelp om deur verskeie boeke van die Bybel te werk en baie by mekaar te leer. Edelweiss het deel van my lewe geword en ek het ook deel van Edelweiss se lief en leed geword – onder die inwoners en ook die personeel. Covid-19 het ook by Edelweiss tot isolasie en ander uiterste maatreëls gelei, en eise aan kom stel wat vir die inwoners, personeel en myself baie traumaties was. Ons moes vinnig alternatiewe vind om steeds die bediening te laat aangaan – en hopelik het ons daarin geslaag. Baie dankie aan Stellenberg wat dit finansieel moontlik maak om hierdie liefdesdiens by Edelweiss te verrig. Die bydrae van Stellenberg help ook dat die bediening in my eintlike gemeente, Parowvallei-Oos, wel byna voltyds kan voortgaan. Theo Swart.”