2021 – ’n Jaar van verandering en vereenvoudiging

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Die uitdagings wat die koronaviruspandemie meegebring het en waarmee ons land, die onmiddellike gemeenskap en die wêreld gedurende 2020 gekonfronteer is, het die gemeente se strategiekommissie en die kerkraad genoop om vernuwend te dink en te herbesin oor die gemeente se pad vorentoe. Daarmee saam gaan verskuiwings in ons predikantespan binne die volgende twee jaar plaasvind wanneer  di. Callie Visagie en Why Duvenhage aftree. Die gevolg is die vereenvoudiging van ons bestaande bedieningsmodel om die volhoubaarheid van dienslewering te verseker.  Ek deel graag die volgende besluite:

 Eredienste in 2021

Die aanbieding van ’n verskeidenheid eredienste met diversiteit in bedieningstyle was nog altyd eie aan Stellenberg-gemeente. Ons is baie dankbaar dat ’n verskeidenheid dienste tydens die grendeltydperk aanlyn beskikbaar gestel kon word, en boonop baie goed ondersteun is.  Ons moes behoorlik kopkrap om ’n model te formuleer waarbinne ’n verskeidenheid eredienste saam met die inperkingsregulasies en die moontlikheid van verskerpte regulasies, aangebied kon word.

Ons wil graag die familiediens in 2021 hervat en beoog ook om die meditatiewe dienste weer aanlyn beskikbaar te stel.  Met die oog op sosiale distansiëring is die saalgedeelte van die kerk met tafels en stoele ingerig en bied dus die ideale ruimte vir die aanbieding van eredienste.  Dit beteken ook dat die kleinsaal wat voorheen vir die familiediens benut is, voortaan vir die aanbieding van kategeseprogramme gebruik kan word, sodat veilige sosiale afstand tydens kategese-aanbiedings verseker kan word.

Om die aanbieding van die oggenddiens en daarna die familiediens in die kerkgebou moontlik te maak, moes eredienstye ongelukkig aangepas word en daar word beoog om vanaf 31 Januarie 2021 dienste soos volg aan te bied:

  • 08:30 ’n Oggenddiens in die kerk met die Coram Deo-groep wat begeleiding sal hanteer. Die erediens se direkte uitsending, asook ’n opname van die erediens, sal ook weekliks aanlyn beskikbaar wees.
  • 09:00 ’n Meditatiewe diens in die kapel. Na afloop van die diens sal ’n opname op ons gemeente se webblad geplaas word.
  • 09:30 ’n Familiediens in die kerk. Die tydsduur van die diens word heelwat verkort sodat die Annibrand-juniorgroepe reeds om 10:10 kan begin en gesinne steeds, soos in die verlede, om 11:00 kan huis toe gaan.
  • 18:00  Die Relevantdiens in die kerk en aanlyn. Annibrand-seniorgroepe kom na die diens in verskillende lokale byeen.

Koffie en tee is voor die oggenddienste, asook na die dienste in die voorportaal van die kerk en in die teetuin beskikbaar.

Die aanbieding van dienste sal voortdurend in ooreenstemming met inperkingsmaatreëls geëvalueer word en veranderinge sal deurlopend deur middel van die webwerf en gemeentebulletin bekend gemaak word.

Covid-19-protokol word nougeset gevolg sodat lidmate die dienste veilig kan bywoon.  Sanitasie van die perseel word weekliks gedoen en lidmate word versoek om deurgaans maskers tydens die eredienste te dra.

 Almanakke vir 2021

Die gemeente-almanak vir 2021 sal teen einde Januarie 2021 beskikbaar wees.  Almanakke kan in die voorportaal van die kerk, of by die kerkkantoor, afgehaal word.

Beroeping van dr. André Agenbag

Dr.  André Agenbag, wat voltyds in diens van die Sinode Wes-Kaapland werk, se versoek om aan Stellenberg-gemeente gekoppel te word, is op die kerkraadsvergadering van 25 November goedgekeur en ’n beroep vir dr.  André Agenbag is deur die kerkraad uitgebring.   Dr.  Agenbag sal dan DV op Sondag 13 Desember in die gemeente bevestig word.  Die beroep het geen koste-implikasie vir die gemeente nie, aangesien hy deur die sinode vergoed word.

 Die leraarspan 2021-2022

Di. Why Duvenhage en Callie Visagie bereik beide binne die volgende twee jaar aftreeouderdom en sal die gemeente se diens gedurende 2022 verlaat. Ons sal in Januarie 2022 van ds. Callie Visagie afskeid neem en in Julie 2022 van ds. Why Duvenhage.  Met die oog op die uitdagings wat die Covid-19-pandemie aan ons land en lidmate gestel het, gepaardgaande met die finansiële onsekerheid wat steeds vir die toekoms voorspel word, het die kerkraad besluit dat slegs een van die vakante leraarposte in 2022 gevul sal word.   Die kerkraad het die aanbeveling bekragtig en daar word dan beoog om ’n aanstelling in Februarie/Maart 2022 te maak. In die volgende twee jaar sal die leraarspan aandag gee aan dié oorgangsproses om te verseker dat dit so glad moontlik sal verloop.

 Kantoorpersoneel

  • Ons groet vir Marilize Verreyne, feesmarkorganiseerder, wat aftreeouderdom bereik het en na ’n dienstydperk van ag jaar die tuig teen einde November 2020 neergelê het. Marilize het haarself as ’n knap organiseerder met baie vindingrykheid bewys.  Sy sal onthou word vir die  wonderlike verhouding wat sy met feesmarkuitstallers en medewerkers opgebou het.  Ons beste wense vergesel Marilize en haar man, Hendrik, in die nuwe lewensfase wat hulle betree.
  • Marguerite Bester, finansiële bestuurder, het gedurende November 2019, na 25 jaar diens by Stellenberg-gemeente, aftreeouderdom bereik. Weens die onbestendigheid wat die koronaviruspandemie veroorsaak het, het Marguerite ingewillig om op kontrakbasis in haar pos aan te bly vir die duur van 2020 en sal dan eers teen einde Maart 2021 finaal uit haar pos tree.  Die pos sal gevul word en is reeds geadverteer.