2020 – Jaar van die Bybel

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier vanjaar sy 200ste bestaansjaar en daarmee saam word die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans op 29 November 2020 bekend gestel.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) is ’n missionale beweging met ’n eenvoudige en gefokusde visie: ’n Bybel vir elkeen! Die missie van die BSA is bekostigbare Bybels vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate, sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar. Dit word bereik deur die Bybel in alle tale te vertaal, dit in verskillende formate te publiseer en dit na alle uithoeke van Suid-Afrika te versprei.

Volgens die Bybelgenootskap se webwerf het verskeie sake ‘n rol gespeel by die besluit om ‘n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans voor te berei.

Die belangrikste oorwegings was die volgende:

  1. In Afrikaanssprekende kerke is daar die behoefte vir ‘n Bybelvertaling wat sterker aansluit by die bronteks (dit wil sê die Hebreeuse, Aramese en Griekse tekste) as die bestaande tekste. Baie gelowiges het behoefte aan ‘n Bybel wat so na moontlik aan die bronteks, maar steeds goed verstaanbaar, is.
  2. Vertaalkunde het as ‘n wetenskap geweldig ontwikkel sedert die publikasie van die 1983-vertaling in Afrikaans. Tot in die helfte van die vorige eeu het alle vertalings ’n letterlike of woord-vir-woord benadering gevolg, soos die 1933/53-vertaling. Die 1983-vertaling verteenwoordig die verdere ontwikkeling in vertaalkunde waarin die klem meer val op ‘n gedagte-vir-gedagte of betekenis-georiënteerde vertaling. Alhoewel hierdie vertalings vir baie lesers die Bybel meer toeganklik maak, verg hulle heelwat meer interpretasie van die kant van vertalers as in die geval van woord-vir-woordvertalings. Dit is dus te verstane waarom sommige gevestigde kerke en meer ernstige Bybellesers (byvoorbeeld in Bybelstudiekringe) begin voel het dat hierdie vertalings hulle soms van die bronteks vervreem.Onlangse ontwikkelinge in Bybelvertaalkunde het ook bevestig dat daar met reg by kerke en Bybellesers behoefte mag wees aan vertalings wat verskillende funksies vervul. Terwyl die aard en omvang van hierdie funksies oordryf kan word, is daar konsensus dat gevestigde kerke behoefte sal hê aan ‘n vertaling wat nie net so naby as moontlik aan die bronteks is nie, maar ook aan die vreemdheid en andersheid van die Bybel as antieke godsdienstige teks reg sal laat geskied. Hierdie soort vertaling fokus nie daarop om die Bybel vir lesers in terme van hulle eie leefwêreld lekker te laat lees nie. Dit neem eerder lesers na die Bybel in se eie tyd en leefwêreld. Alhoewel dit altyd gangbare idiomatiese Afrikaans moet wees, word die letterkundige aard en struktuur van die bronteks, asook die gebruike nie gemoderniseer nie.Daar is dus duidelik ‘n behoefte aan so ‘n vertaling van die Bybel in hedendaagse Afrikaans naas die bestaande woord-vir-woord vertaling van 1933/53 en die dinamiese vertaling van 1983 asook ander vertalings wat nie deur die Bybelgenootskap voorberei is nie.
  3. Ons kennis van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, het in die afgelope aantal jare uitgebrei. Meer onlangse taalkundige modelle, asook die moontlikhede wat rekenaarprogramme bied, het ons kennis van die Bybeltale laat toeneem.

 Wat is die vertaalopdrag waarvolgens die vertalers te werk gaan?

Volgens ‘n lid van die vertalingskommissie: “Skep ‘n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir die voorlesing en gebruik in eredienste, sowel as vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.”

Hierdie opdrag is verder omskryf as ‘n vertaling wat ‘n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.

Die nuwe vertaling van die Bybel sal vanaf 29 November 2020 in geestelikeliteratuurwinkels te koop wees.  Vir volledige inligting besoek gerus die Bybelgenootskap se webwerf.

Bronne | Bybelgenootskap se webwerf asook navorsing deur A.B. Geyer-Fouche.