1971 – die begin van ’n nuwe storie . . .

Toe Stellenberg-gemeente op 2 Augustus1971 van Durbanville-gemeente afgestig het, het die gemeente soos die gebruik is, ’n bruidskat van R20 000  en twee aangrensende erwe langs Mountain Viewrylaan, tussen Nassau- en Raphaelsingel,  ontvang.   Dit was gou vir die destydse kerkraad voor die hand liggend dat dié twee erwe nie geskik sou wees vir die bou van ‘n pastorie en kerkgebou nie.  Die erwe was baie skuins, wat boukoste sou verhoog en daar was nie ruimte vir parkering beskikbaar nie.

Die boukommissie wat aangestel was om die gemeente se bouprojek te bestuur, het besluit om die stadsingenieur te kontak met die hoop om dié twee erwe vir meer geskikte erwe te verruil.  Op 19 Oktober 1971 word die kommissie in kennis gestel dat die twee erwe in die gemeente se besit geruil mag word vir die twee erwe op die hoek van Mountain Viewrylaan en Edelweissweg.  Die kerkraad moes daarvan kennis neem dat die erwe aangrensend aan ‘n besigheidsperseel was en hewige beswaar is oor die aangeleentheid aangeteken.  Kommer het veral geheers oor die moontlike handel wat op Sondae kon plaasvind, maar op die buur-erwe is uiteindelik ’n motorhawe opgerig en goeie samewerking is oor die jare heen tussen die gemeente en die eienaar van die motorhawe gevestig.

Aanvanklik is eredienste in die skoolsaal van Hoërskool Durbanville gehou en op 11 Mei 1972 is eredienste na die skoolsaal van Laerskool Kenridge verskuif.  Dit het egter ‘n droom gebly om ‘n eie kerkgebou te bekom.

Op 7 Junie 1972 is daar begin met die bou van die pastorie op die hoek van Mountain Viewrylaan en Edelweissweg.  Die tenderprys vir die huis het R35 000 beloop en op 18 Desember 1972 word die pastorie deur die eerste leraar betrek.  Daardie gebou dien tans as die gemeente se kerkantoor.  Na die pastorie voltooi is, het die kerkraad die bou van die kerkgebou volstoom begin aanvoer.

Op 17 Mei 1973 aanvaar die kerkraad die bouplanne – opgetrek deur die argitek, Hercules Bothma – vir die oprigting van ‘n kerkgebou met duisend sitplekke. By dieselfde vergadering word besluit om nog ‘n erf in Constantiasingel teen R 5 350 te koop vir die bou van nog ‘n pastorie.  Laasgenoemde pastorie is later jare verkoop en nie meer in die gemeente se besit nie.

Op 8 April 1974 word die meesterbouers, Van Dam en Noffki, se kwotasie van R295 592 vir die bou van die kerkgebou eenparig deur die kerkraad aanvaar en op 15 Mei 1976 het die groot oomblik aangebreek toe die sleutel van die voltooide kerkgebou aan ds. Visser, die gemeente se eerste leraar, oorhandig is.

Interessante feite en probleme rakende die kerkgebou en bouproses:

  • Die reuseskuifdeur van vinielmateriaal, wat die kerkgebou en die saalgedeelte van mekaar skei, was op ’n tydstip die hoogste en langste skuifdeur in die suidelike halfrond.
  • Die plafongedeelte van die saalgedeelte is heelwat laer as die van die kerk.  Dit het blykbaar met die hoogspanningskabels wat destyds tussen die pastorie en die kerkgebou geloop het, te doene gehad.
  • Die orrel se klankkas is op die kerkarea gerig en die saalgedeelte se kerkgangers hoor dus altyd die maat van die musiek so ‘n halfnoot later.
  • Die boustene, ’n kalsiumsilikaatsementmengsel – waarmee die kerk gebou is, is baie duursaam en hoef nie geverf te word nie.
  • Die ouderlinge en diakens kan nie aan weerskante van die kansel sit nie, soos dit destyds die gebruik was, en moes aan die een kant van die kansel, agter mekaar sit.

Erkenning aan Nolte Smit, jare lange lidmaat van Stellenberg-gemeente, vir die versameling en argivering van al die inligting oor die gemeente se ontstaan en die geboue.  Nolte woon in Burensingel 3.