Gedagte vir die dag | Vrydag 26 November 2021

Kolossense 3:1212Julle is die mense wat God uitge­kies het wat Hy geheilig het en wat Hy lief­het. Daarom moet julle die volgende soos kle­re aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoe­dig­heid, geduld.

Ons trek elke dag skoon klere aan. Die vuil klere word in die aand uitgetrek en in die oggend met skones vervang. Dit is amper soos ’n ritueel wat ons outomaties uitvoer sonder vreeslik ernstig daaroor na te dink. Paulus pas die eenvoudige alledaagse taak op ons geestelike lewens toe. Paulus meen soos ons die ou vuil klere in die aand uittrek, so moet ons ook die ou sondige gewoontes aflê en net soos ons weer skoon klere aantrek moet ons die nuwe manier van lewe volgens Christelike beginsels aanleer.

Iemand wat sy lewe aan die Here toevertrou het se lewe het verander en hy/sy kry ’n nuwe identiteit en as’t ware nuwe en skoon klere. Met ‘n nuwe identiteit moet daar ‘n sigbare verandering in sy lewe wees. Die ou sondige mens moet soos vuil klere uitgetrek word. Wanneer ons die ou vuil klere uittrek moet ons ook die nuwe klere van Christenwees aantrek. Wat behels hierdie nuwe klere, of hierdie nuwe identiteit? Ek noem net ’n paar:

  • Dit beteken dat ons sal breek met die sonde
  • Om eerlik te wees
  • Nie kwaad, ongeduldig en onbeskof wees nie
  • Nie steel nie
  • Nie vloek
  • Soos ons teks sê liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoe­dig­heid en geduld.
  • Jesus som dit op as lief wees vir God en lief wees vir ons naaste.

Dit is nie iets wat ons sommer op ons eie kan regkry nie. Ons het die hulp van die Here daarvoor nodig. Daarom moet ons elke dag bid dat die Here ons sal help om die ou vuil klere uit te trek en die nuwe skoon klere aan te trek. Klere wat pas by ’n nuwe identiteit in Jesus.

 Gebed

Almagtige Here God. Ek wil my ou vuil klere voor U kom uittrek en ’n nuwe kleed wat gewas is in die bloed van Jesus Christus aantrek. Help my om asseblief te lewe soos U wil hê.

Amen