Johannes 14:6 “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Die teksgedeelte word dikwels deur gelowiges gebruik om ander mense se saligheid te beoordeel. En dan word daar dikwels ook nog ’n reeks vereistes uniek aan elke Christelike denominasie aan dié weg tot saligheid gekoppel. Toe Jesus hierdie woorde net voor sy kruisiging gespreek het, was die bedoeling nie om sy dissipels te dreig met die ewige verderf nie. Inteendeel die teks word in Johannes 14:1 ingelei met die woorde: “Julle moet nie ontsteld wees nie”. Hy het dit in die konteks van God se genade en nie sy oordeel nie, gespreek. Dat Christus die weg, die waarheid en lewe is, is daarom eintlik ’n geweldige troos vir enige persoon. Vir die ongelowige Tomas het dit die belofte ingehou dat die Here hom selfs in sy twyfel, nie sal verlaat nie.
Is jy bekommerd oor vriende of familie wat die pad byster geraak het? Of miskien voel dit vir jou of jyself buite bereik van God begin wandel het. Leef dan met die troos dat die Here vanoggend jou hart ken en dat die liefde en genade van die Skepper van hemel en aarde jou en die mense na aan jou hart sal omvou. En bid dan die volgende gebed in Psalm 139.
Gebed
Here, U sien dwarsdeur ons, U ken ons. U omsluit ons van alle kante en neem ons in besit. Die wete oorweldig my vandag en is te hoog vir my begrip. Weerheen sou ons gaan om u Gees te ontvlug en aan u teenwoordigheid te ontkom? Deurgrond my, O God, deurgrond my hart, sien my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.
Amen.