KOLOSSENSE 3:9-10. Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.
Ons trek elke dag skoon klere aan. Die vuil klere word in die aand uitgetrek en in die soggens met skoon klere vervang. Dit is ’n ritueel wat ons amper outomaties uitvoer en dink nie ernstig daaroor na nie. Dié eenvoudige alledaagse beginsel gebruik Paulus in die gedeelte wat ons gelees het en pas dit toe op ons geestelike lewe. Paulus meen soos ons die ou vuil klere in die aand uittrek, so moet ons ook die ou sondige gewoontes aflê en net soos ons weer skoon klere aantrek moet ons die nuwe Christelike leefwyse aanleer.
Iemand wat sy lewe aan die Here toevertrou het se lewe het verander en hy/sy ontvang ’n nuwe identiteit. ’n Nuwe identiteit moet met ’n sigbare verandering in sy/haar lewe gepaardgaan. Die ou sondige mens moet uitgetrek word soos ou vuil klere uitgetrek word. Wanneer ons die vuil klere uittrek moet ons ook die nuwe klere van Christenwees aantrek.
En so moet Jesus ons ou identiteit en menswees afstroop en dan vir ons ’n nuwe identiteit gee. En onthou hierdie is nie ’n eenmalige ding nie. Elke dag moet ek weer myself aan die Here se mag en krag oorgee.
GEBED
O Here kom maak my nuut kom gee asseblief vir my ‘n nuwe identiteit. In Jesus Naam.
Amen