Genesis 18:14. Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.”
Dis warm. Die bokke staan in mekaar se skaduwee. Die beeste beweeg net hulle kake terwyl hulle herkou. Die skaduwees is kort. Dis die warmste deel van die dag. Abraham sit in die trek van sy oop tentdeur en sluimer in. Hy staar slaperig uit oor die woestyn, maar ’n beweging trek sy aandag. Drie figure staan skielik in die dynserigheid. Sonder om te huiwer, staan Abraham dadelik op, draf na hulle toe en buig neer voor hulle: “Menere, doen my die guns. Moenie net verby gaan nie. Laat ek eers vir u ’n bietjie water gaan haal en julle voete was. Kom rus hier onder my boom. U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ’n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.” Die drie mans huiwer ook nie en sê: “Goed, maak so!”
Abraham gaan die tent binne en sê vir Sara: “Bak vir ons roosterkoeke.” Abraham draf buitentoe na die beeste en kies ’n mooi jong kalf. Hy gee dit vir ’n slaaf om te slag en gaar te maak.
Abraham neem botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en bedien dit vir die mans. Daar onder die boom in die warmste deel van die dag het die drie mans geëet.
Dan hoor Abraham en Sara die wonderlike nuus: “Oor ’n jaar sal jou vrou Sara ’n seun hê”. Skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat. Sy gasvryheid het in ’n ontmoeting met die Here mee gebring!
Maar die tyd vir Abraham en Sara om kinders te hê is lankal verby. Geen wonder dat Sara by haarself lag en dink: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?” Maar die Here maak ’n belofte vir ’n spesifieke tyd. Hy sê: “Oor ’n jaar sal jou vrou ’n seun hê”.
Dit was toe ook só en daarom kan ek en jy ook aan die belofte van die teks vashou. Is iets vir die Here onmoontlik?
GEBED
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.
Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
Leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word,
sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.